‘My skaduwee loop los’

Zirk van den Berg speel fyn spel met waarheid, herinnering
’n Mens sien ’n behendige, woordvaste skrywer (wat op Walvisbaai gebore is) aan die woord.
Francoise Steynberg

Joan Hambidge

Met sy debuut in 1989, Ekstra dun vir meer gevoel (kort-kortverhale), het Zirk van den Berg reeds ’n merk gemaak. 

Daarna is hy bekroon met die W.A. Hofmeyr-prys in 2020, kykNET-Rapportprys vir fiksie 2020 en die kykNET-Rapportprys vir film in 2020 vir Ek wens, ek wens en die kykNET-Rapportprys vir film in 2014 vir ’n Ander mens.

Hierdie skrywer is ook ’n vertaler en onthoubare bakens vir hierdie leser is die onlangse Die onsigbare pou (2022) en Landuit: Want jy wil mos in 2025, memoires. 

Ekstra dun vir meer gevoel is een van daardie debute wat ’n mens steeds weer en weer kan lees. Daardie verhale oor die onheilige waarheid. Hier sien ’n mens die skrywer se krag soos in die verhaal “Voor die trein” wat inspeel op Tolstoi se Anna Karenina en ’n verkragtingstoneel van “’n moffie” (76). Of ’n verhaal oor geskeides wat heet “Tien en ses” met ’n wrang slot oor ’n man vervreem van sy kinders. Hierom bly hulle nege en vyf jaar oud.

Bykans soos in ’n gedig bekoor die tegelykertydaspek in “’n Troeteldier is ’n tranedal” (65) met die hond se oë wat so bruin is soos die ek-verteller s’n. Hiermee kan hy rus vind, tydelik, in die verwerking van die moeder se dood.

In ’n debuut sien ’n leser dikwels die stylgrepe van ’n skrywer. By Van den Berg is dit kriptiek, wrang en ironiese slotte, verhale wat met elke lees iets nuuts na vore bring. Kort en kragtig.

“Voor dooiemansdeur” (22) is die prikkel vir die jongste roman.

“Miskien moes ek maar vroeër opgestaan het” met die ontdekking van die honger honde en ’n halfgevrete lyk.

Kort vertellings, wat telkens uitwaaier met intertekste en toespelings.

My skaduwee loop los kan ten beste getipeer word as ’n spieëlteks. Oscar Wilde se bekende Picture of Dorian Gray uit 1890 is ’n belangrike sleutel.

Bekende temas soos die ondersoek na die dood en begrafnisse, familieskap, outsider-wees, lewe as ’n migrant (Nieu-Seeland), die invloed van kinders op ’n huwelik en die soeke na geluk, is hier te vinde.

’n Mens sien ’n behendige, woordvaste skrywer aan die woord. Dit is die verhaal van ene André Verreyne wat hoor hy het ’n tweelingbroer. Boonop word dit onthul op ’n begrafnis, daardie ruimte waar mense kortstondig saamgesnoer word en dan weer uitmekaar spat. Met tea and sympathy.

Verreyne se hele komvandaan word deurmekaar gekrap. Hy wil die broer vind.

Boonop moet hy terugkeer “huis toe” vir sy dogter se troue, waaroor hy ook ambivalent voel. Die soektog word ’n speurtog wat ’n mens terugneem na Agatha Christie se speurverhale waar daar dikwels ’n ander een agter alles skuil. ’n Broer of afgetekende kind wat terugkeer en almal onkant betrap. Hier is dit egter André se soektog én selfkonfrontasie.

Op hierdie soektog wat ’n reis word, word die leser voorgestel aan verskillende karakters. Soms uiters satiries, ander kere pynlik-melancholies. En hy lyk soos sy broer, wat beteken dalk is hy nes sy broer? Die broer is ’n glyjakkals van die ergste graad. Sy name verander. Sy werke ook, sy verbintenisse eweneens op die slingerpad van die lewe.

Spieëlteks, reisverhaal, die verhaal as trapesium eerder as parallelogram: “Ons lewensweg is ’n tweespoorpad waarvan die lyne nie parallel loop nie" (182) met skryfkommentaar van die verteller.

Sepies (Egoli) en Milan Kundera word geplaas neffens fotoboekies en Huisgenoot. Jung se skadu (121) is hier.

Dagon, die norsste van die Boergondiese helde uit Die Afrikaanse kinderensiklopedie, is alles belangrike verwysings vir die impak van tekste op ons psige. Die invloed van blokkiesraaisels en koerante. En grappe: “Honde skyt spookasem en katte miaau psalms” (28). Die groot aftreeoord in die lug. ’n Koffiewinkel se naam is Vinknessie. Candilocks! “Old golfers don't die. They simply lose their balls” (59).

Die pa, ’n blokkiesraaiselkoning, wat die seun opbel in Nieu-Seeland en ’n leidraad gee. Die ouerhuis, waarin Verreyne tydelik bly op sy besoek, word ’n pynlike herinneringsreis tussen toe en nou.

Name is simbolies: Verreyne, Truia, Bosman Bosman, André/Andy/Anda. . . 

Herkenbare bakens in die Kaap wat ook verander het, maar in die geheue bly staan.

Ook werklike mense soos Paul Emslie en kunskommentaar is tersaaklik. Outentieke dialoog.

Wyshede: Lagtrane teenoor huiltrane; die lewe vlek ’n mens se klere én die impak van verwerping op ons, al speel dit alles af in die onbewuste.

My skaduwee loop los is toeganklik geskryf, maar onder draai die duiwels rond. Dit het hierdie leser weer herinner aan Van Wyk Louw se “Ballade van die bose” ook.

Nog en ook. As en wanneer. ’n Slim boek. Leesplesier.

– Joan Hambidge is ’n senior navorsingsgenoot aan die Universiteit Kaapstad en ’n digter en romanskrywer.



Kommentaar

Republikein 2026-07-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer