My kuns, jou muur

Om te vernuwe
In die immer vloeiende gesprek van kuns, wat beteken dit om 'n kunswerk te besit?
Henriette Lamprecht
Is jy omring deur kunswerke wat eens vreugde veroorsaak het, maar nou net as stille metgeselle iewers agter in ‘n kas gebêre is of sonder enige werklike vreugde op jou mure hang? Het jy kunswerke geërf wat nie meer in pas is met jou leefstyl en omgewing nie?

Of het jy dalk verborge skatte iewers in ‘n motorhuis ontdek wat wag om weer hul verskyning op ‘n muur of in ‘n sitkamer te maak? Bellhaus Atelier & Galerie skop die jaar met ‘n nuwe konsep af - die Kunsruil Uitstalling - wat daarop gemik is om kunswerke te herontdek en te verfris wat nie meer in pas met jou persoonlike verwysingsraamwerk en voorkeure is nie. Vir ‘n administratiewe fooi van N$100 per kunswerk kan jou voorleggings deel wees saamgestelde uitstalling waar versameling herverbeel word as iets waaraan jy aktief deelneem. Dit bied die geleentheid vir jou kunswerke om so ‘n nuwe tuiste te vind of nuwe uitruilings te inspireer. Die fooi dek ‘n omvattende evaluasie wat waardebepaling, agtergrond van die kunstenaar, navorsing oor die herkoms asook verifiëring van die egtheid van die kunswerk in. Hoewel BELLHAUS Atelier & Galerie deeglike navorsing doen, kan die akkuraatheid en volledigheid van inligting veral vir ouer of minder bekende werke nie gewaarborg word nie. Die galery sal ook kundige raad verskaf oor aanbieding of herformulering om die aantrekkingskrag en potensiële waarde van jou kunswerke te verhoog.

Die uitnodiging vir voorlegging is ideaal vir versamelaars wat hul versamelings wil verfris met nuwe perspektief en doel, erfgename wat vars interpretasie en hernieude relevansie uitlok, asook diegene met kunswerke wat nie meer tot hulle spreek nie of nie by hul huidige ruimte pas nie. Natuurlik geld dit ook vir mense wat na kleiner ruimtes verhuis het en moet besluit wat gaan en wat bly, die wat verborge of vergete kunswerke ontdek het en dit graag met ander wil, kunstenaars wat direk met hul teikenmark wil skakel en kurators wat toegewy is aan deurdagte vernuwing en betekenisvolle dialoog deur middel van kuns. Voorleggings kan tot 7 Februarie van Dinsdag tot Vrydag van 10:00 tot 12:30 by Bellhaus Atelier & Galerie ingedien word. Indien jy ‘n groot aantal kunswerke het, maak ‘n afspraak via [email protected] of indien jy enige navrae het. Die uitstalling van die gekose versameling werke is van 19 Februarie tot 18 Maart.

Kommentaar

Republikein 2026-01-29

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer