My 10 hoogs verwagte TV-reekse van 2026

Barry de Klerk

Ek is gereed om vanjaar baie meer televisie te kyk, want verlede jaar het ek nie genoeg tyd vir die klein skerm gemaak nie.

Ek het eintlik ’n paar weke gelede begin om ’n lys saam te stel, maar dit het aanhoudend verander. Die lys sluit ook een of twee reekse in wat reeds begin het, maar ek is nuuskierig om te sien hoe hulle hul eerste seisoene gaan afsluit. Die reekse is in geen spesifieke volgorde nie. Hier is my 10 hoogs verwagte reekse van 2026.


SPIDER NOIR

Spider Noir is ’n nuwe Spider-Man-projek met Nicolas Cage in die hoofrol. Hy vertolk Ben Reilly, ’n private speurder wat toevallig spinnekopkragte het. Hy het voorheen in Into the Spider-Verse verskyn. Die reeks speel af in ’n swart-en-wit-geïnspireerde weergawe van New York in die 1930’s en sal in beide swart-en-wit sowel as kleur uitgereik word.


MALCOLM IN THE MIDDLE: LIFE’S STILL UNFAIR

Malcolm in the Middle is terug, met Frankie Muniz, Bryan Cranston en Jane Kaczmarek wat almal hul rolle hervat. Dit is ’n reeks waarmee ek grootgeword het en ek kan nie wag om te sien waar die familie hulle nou bevind nie. 


STAR WARS: MAUL – SHADOW LORD

As ’n groot Star Wars-nerd móés ek hierdie insluit. Die reeks speel af ná The Clone Wars en volg Maul terwyl hy sy kriminele ryk in die vroeë dae van die keiserryk herbou. Dit klink na iets vars in die Star Wars-reeks en ek kan nie wag nie.


STRANGER THINGS: TALES FROM ’85

Ek weet mense is nie gelukkig met die laaste episode van Stranger Things nie, maar ek het dit nogal geniet. Dit is ook hoekom ek opgewonde is om terug te keer na Hawkins met hierdie reeks. Hierdie geanimeerde reeks speel af in die winter van 1985 en volg die Hawkins-kinders terwyl ’n nuwe bonatuurlike bedreiging opduik.


ELLE

My suster het ons Legally Blonde laat kyk en, eerlikwaar, ek het die fliek regtig geniet. Hierdie voorloper-reeks verken Elle Woods se tienerjare, lank voor haar regskool- en Harvard-drome. As dit net half so goed soos die fliek is, sal ek tevrede wees.


LANTERNS

Nog ’n superheldreeks wat vanjaar sy verskyning maak, is op die Green Lanterns gefokus. Dit word beskryf as ’n gegronde komediedrama en dit maak my opgewonde. Dit voel uiteindelik asof DC die Green Lantern-“mitos” ernstig opneem.


A KNIGHT OF THE SEVEN KINGDOMS

Dit is een van die reekse wat reeds ’n paar weke gelede begin het, en tot dusver is dit uitstekend. Die laaste episode is amper hier en dit lyk asof dit op ’n hoë noot gaan afsluit.


DIE KANTOOR

Die Kantoor, Suid-Afrika se verwerking van The Office, word reeds op kykNET en Showmax uitgesaai. Die reeks het my heeltemal geboei en ek geniet dit net soveel soos die oorspronklike reeks. 


SCRUBS

Scrubs kry nuwe lewe en ek is baie opgewonde, want ek het die oorspronklike reeks ’n paar dae gelede weer klaargekyk. Om die reeks weer te kyk, het my herinner hoe goeie skryfwerk ’n eenvoudige idee in ’n onvergeetlike episode kan omskep. 


DTF ST. LOUIS

DTF St. Louis is ’n komediereeks geskep deur en met Jason Sudeikis in die hoofrol. Die reeks fokus op ingewikkelde volwasse verhoudings, moderne manlikheid en die lewe in die Midde-Weste van die VSA. Ek is mal oor Sudeikis in Ted Lasso, so hopelik is hierdie net so goed.

Wat is jóú hoogs verwagte reekse van 2026?

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-06-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer