Die musikant Riaan Smit sê hy moet dikwels opdok om sy eie musiek tydens optredes te speel en sing. Foto argief
Die musikant Riaan Smit sê hy moet dikwels opdok om sy eie musiek tydens optredes te speel en sing. Foto argief

Musikante bevraagteken Nascam

Iréne-Mari van der Walt
Vrae het onder plaaslike musikante ontstaan oor kwessies met die betaling van tantième, asook wanpraktyke en ’n gebrek aan konsekwente betalingstrukture in die Namibiese Vereniging vir Komponiste en Outeurs van Musiek (Nascam).

"Dit begin vir my lyk soos ’n geldmaakstelsel wat as musieklisensies en tantième vir kunstenaars voorgestel word – hulle sê daardie geld is vir kunstenaars, maar dit is nie vir kunstenaars nie, dit is vir hulle," sê die musikant Riaan Smit.

Hy het verduidelik hy alleen het al N$30 000 opgedok aan Nascam se agente wat betalings vir musieklisensies en briewe van Nascam vir werkspermitte vir buitelandse musikante met eWallet-transaksies of kontant ontvang het sonder dat rekords of bewyse van betaling uitgereik is.

Plaaslike media berig dat Nascam se destydse uitvoerende hoof, Albert Nicanor, tydens ’n opedag op Rundu gesê het dat Nascam meer as N$13,33 miljoen in tantième-betalings in die 2023-’24 finansiële jaar ingevorder het en volgens Nascam is N$2,53 miljoen uitbetaal aan kunstenaars. Dit kom neer op sowat 19% van Nascam se totale inkomste wat aan kunstenaars uitbetaal word. Nascam verklaar ook dat ’n verdere bedrag wat gelykstaande is aan 10% van die betalings aan kunstenaars ter syde gesit word vir maatskaplike en kulturele bevordering.

"Internasionaal versprei uitvoerende regte-organisasies tipies 70% tot 85% van versamelings aan regtehouers en behou 15% tot 30% vir bedryfskoste," verduidelik Smit.

“Op die mees basiese vlak behoort 'n agentskap vir die invordering van tantième te bestaan ​​om kunstenaars te betaal vir die gebruik van hul werk – nie hoofsaaklik om hulself te befonds nie. Wanneer die oorgrote meerderheid van die geld wat ingevorder word nie die regtehouers bereik nie, moet daardie doel bevraagteken word,” sê hy.

Smit sê ook dat hy, ten spyte van die feit dat sy musiek gereeld op plaaslike radiostasies te hoor is, meen die bedrae wat Nascam aan hom weergee, nie klop met dié van die Suid-Afrikaanse Organisasie vir Musiekregte (Samro) nie, ten spyte van aansienlik minder lugtyd.

"In Namibië het Nascam aangedui dat my verdienste oor 'n tydperk van drie jaar N$14 beloop, wat onder hul drempel vir ’n uitbetaling is. Dit is ten spyte van 105 oorspronklike liedjies en hoë speelsyfers op groot nasionale radiostasies. Dit is dieselfde werke, onder dieselfde kopiereg, met verifieerbare uitsaaityd," sê Smit.

Hy verduidelik dat hy ook telkemale al kopiereg-heffings moes betaal om sy eie musiek waarvan hy die kopiereg besit, tydens optredes te sing en speel. "Ek is nie ’n lid van Nascam nie. Ek is die kopiereghouer van my liedjies, internasionaal geregistreer. Tog het ek persoonlik – en venues het namens my – lisensiegelde aan Nascam betaal sodat ek my eie musiek in Namibië kan opvoer. Die geld bereik my nooit," verduidelik hy.

"Nascam het my meegedeel dat lisensiegelde wat vir my musiek ingevorder word, aan Samro betaal word, wat dit dan aan musiekregtemaatskappy, BMI, sou oorbetaal, waar my werke geregistreer is. Toe ek egter by Samro daaroor navraag doen, het hulle bevestig dat geen tantième van Nascam namens my ontvang is nie. Dit laat 'n gaping wat nog nooit duidelik verduidelik is nie," sê Smit.

'WAT HELP DIT?'

’n Welbekende musikant van Windhoek wat vir byna ’n dekade aktief is, sê hy het vanjaar vir die eerste keer ’n betaling van Nascam ontvang nadat hy sy lidmaatskap by Nascam opgeskort het.

"Ek dink ek was heel van hul radar af tot ek geskuif het, so nou dink ek is ek onder hul aandag, maar ek wil skuif na ’n ander internasionale organisasie. Wat help dit ek is by Nascam en ek kry nie betaling nie?"

Die sanger en liedjieskrywer, wat verskeie internasionale toere oor die afgelope jare gedoen het, sê hy is wel deur Nascam ingelig dat hy geregtig is op ’n betaling wat hy nie geëis het nie. Hy verduidelik dat gereelde regulatoriese veranderinge dit vir kunstenaars nog moeiliker maak om te kry wat hulle toekom.

"Enigiets wat ek van Nascam en hul proses sê is onderworpe aan moontlike veranderinge binne die volgende 15 minute – ek kon nooit voorbly nie," sê die musikant wat ook gereeld op Namibiese radiostasies gehoor word.

Die musikant sê dat Nascam die blaam vir onbetaalde tantième in die kamp van plaaslike radiostasies geplaas en beweer het dat hul papierwerk nie ingedien is nie, dus kon die vereniging nie tantième uitbetaal vir die gebruik van sy musiek op die lug nie. Hy sê hy kon egter bepaal dat hierdie nie waar was nie.

REAKSIE VAN NASCAM

Nascam se tussentydse uitvoerende hoof, Ferdinand Gertze, het bevestig dat die vereniging se langtermyn-plan is om beste internasionale praktyke in plek te stel, maar verduidelik dat hoë bedryfskoste en lae inkomste tans hierdie taak belemmer.

"Byvoorbeeld, van die 20 radiostasies wat deur Cran [die Regulerende Owerheid vir Kommunikasie in Namibië] gelisensieër is, is slegs sewe by ons geregistreer. Ons moet ook mense bewus maak van die feit dat hulle ’n Nascam-lisensie moet hê om musiek in die openbaar te speel, so ons moet fisies na hulle toe ry en dit is onkoste," sê hy.

Gertze verduidelik dat Nascam reeds ’n plan van aksie het om in lyn met internasionale standaarde te kom. "Ek is die taak gegee om ons inkomste te vermeerder terwyl ons bedryfskoste dieselfde hou, so ons mik vir die maklike teikens (low-hanging fruits) en hoop om so meer inkomste te kry, wat beteken ons kan ’n groter deel van ons inkomste aan kunstenaars uitbetaal."

Hy verwelkom ook kunstenaars se kritiek vir die instelling: "Hierdie is goeie terugvoer. Ons wil dit graag hoor en verbeter."

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-12-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer