John Meyer se Odysseus is vir meer as N$5,9 miljoen verkoop. FOTO STRAUSS u0026 CO
John Meyer se Odysseus is vir meer as N$5,9 miljoen verkoop. FOTO STRAUSS u0026 CO

Meyer se Odysseus behaal rekordprys

-
-
Henriette Lamprecht

’n Nuwe wêreldveilingrekord vir die Kaapse realistiese skilder John Meyer, tesame met ’n uitstekende resultaat vir ’n belangrike stillewe deur Irma Stern, is behaal tydens Strauss & Co se onlangse veiling van moderne en kontemporêre kuns. 

’n Groot hoogtepunt van die aandveiling was die wêreldrekordprys wat behaal is vir John Meyer se Odysseus, ’n grootskaalse akrielverfskildery wat ’n nagtoneel uitbeeld. Nadat dit mededinging van verskeie bieërs uitgelok het, is die werk vir R5,9 miljoen (US$350 481) aan ’n koper verkoop wat telefonies deelgeneem het. Dit is die derde hoogste prys wat nog ooit op ’n veiling in Suid-Afrika vir ’n werk deur ’n lewende Suid-Afrikaanse kunstenaar behaal is, naas werke deur Marlene Dumas en William Kentridge.

Die hoogste prys van die aand is behaal vir Irma Stern se Still Life with Strelitzias, a Songe Mask and a Songe Nkisi Figure (1946), wat uit die Wilbur Smith-versameling afkomstig was. Die skildery – wat in 1947 in Parys onder die titel Souvenir de Congo saam met ander belangrike werke met ’n Afrika-tema uitgestal is – het 13 bod gelok voordat dit vir R5,8 miljoen (US$505 502) aan ’n telefoniese bieër verkoop is.

Die hibriede (fisiese en virtuele) aandveiling het ’n omset van R52,1 miljoen (US$3 071 607) behaal, met 72% van die lotte wat oor die verloop van die veiling van drie-en-‘n-half uur verkoop is. Die dagveiling, wat uitsluitlik aanlyn plaasgevind het, het ewe goed gevaar met ’n opbrengs van R7, 9 miljoen (US$466 522) en ’n verkoopsyfer van 78%.












Kommentaar

Republikein 2026-11-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer