Meesterklas vir mode
Die meesterklas wat deur een van Namibië se mees gesogte modehuise, House of Poulton, aangebied word, is daarop gemik om die land se modesterre van die toekoms se talente deur mentorskap, sake-opleiding en praktiese bedryfservaring.
House of Poulton se meesterklas is ontwerp om aspirant-modeontwerpers toe te rus met die kreatiewe, sake- en produksievaardighede wat nodig is om in die bedryf te floreer.
Aansoeke het vandeesweek geopen en sluit op 11 Julie. Net tien deelnemers sal uiteidelik gekies word om deel van die meesterklas te wees. Die gekose aspirantontwerpers sal op 'n reis van mentorskap, praktiese uitdagings en bedryfsgeleide werkwinkels geneem word wat daarop gemik is om hul vaardighede te verfyn, terwyl hulle steeds volhoubare modebesighede bou.
Die top 10-deelnemers sal op 13 Julie aangekondig word, voordat 'n reeks meesterklasse begin wat alles dek van mode-identiteit, ontwerpontwikkeling en produksiebeplanning tot handelsmerk, strategie vir sosiale media en inhoudskepping. Deelnemers sal ook uitgedaag word om konsepte te ontwikkel, kledingstukke te produseer, sakeprofiele te bou en hul handelsmerke aan 'n beoordelaarspaneel voor te lê wat bestaan uit gerespekteerde rolspelers in die Namibiese modebedryf.
Mej. Namibië 2025 en die beskermvrou van die meesterklasprogram, Johanna Swartbooi, was tydens die bekendstelling in Windhoek vol lof vir die inisiatief om aspirant-modeontwerpers toe te rus om die bedryf met sukses aan te pak.
Volgens Johanna is Namibië se kreatiewe sektor ryk aan talent, maar het dikwels nie die sakekennis wat nodig is vir langtermyn sukses nie.
“Ons is kreatief, maar ons kort die sake-element,” het sy gesê. Sy het jong ontwerpers aangemoedig om die geleentheid aan te gryp om by bedryfsleiers te leer en hul drome ‘n werklikheid te maak.
Die stigter van House of Poulton, Melisa Poulton, het die meesterklasprogram as meer as net 'n kompetisie beskryf. Volgens Melisa is die program ‘n platform om gapings binne Namibië se modebedryf te oorbrug, betekenisvolle mentorskapgeleenthede te skep en 'n gemeenskap te bou waar kreatiewe mense kan leer, saamwerk en saam groei.
Die inisiatief word in vennootskap met Creative Sport Tourism (CST) aangebied, ‘n vennootskap wat daarop gemik is om Namibiese talent te vier, terwyl dit terselfdertyd 'n meer volhoubare en ekonomies lewensvatbare kreatiewe bedryf skep.
Soos die program vorder, sal die tien deelnemers aan werklike uitdagings met produksie blootgestel word, en wat uiteindelik tot die kies van vier finaliste sal lei. Die finaliste gaan hul versamelings ontwerpe in September by die CST Ekspo by die Hage Geingob-stadion ten toon stel. Tydens die ekspo sal die vier finaliste ook aan ‘n regstreekse uitdaging deelneem, voordat hulle hul finale versameling vir die loopplank aan beoordeelaars en die publiek bekendstel.
Die meesterklasprogram word ook ondersteun deur die mediavennoot tjilTV, wat gehore 'n eksklusiewe kykie agter die skerms sal gee oor die tien deelnemers se reis en kreatiewe proses.
Die kompetisiewenner sal na verwagting met 'n aantal pryse wegstap, insluitend 'n huurooreenkoms van ses maande vir ‘n ruimte waaruit sy of haar besigheid bedryf kan word, 'n industriële naaimasjien, asook 'n koopbewys om materiaal te koop.
Kandidate moet tussen die ouderdomme van 18 en 45 jaar wees, en kan opkomende en gevestigde modeontwerpers insluit. Aansoekvorms is by die Creative Industry Institute of Africa in Windhoek en op die House of Poulton en House of Poulton Incubator Masterclass se Instagram-blad beskikbaar. Vir navrae en aanlynvorms, stuur ‘n e-pos na [email protected]. - [email protected]


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie