'Mama....just killed a man...'

Vyf dekades van Bohemian Rhapsody
Henriette Lamprecht
Vyftig jaar gelede kom ‘n rockgroep by ‘n ikoniese opname-ateljee in die platteland net buite Monmouth in Brittanje aan. ‘n Jaar voor dit was hulle ook hier, onbekend en ietwat platsak. Maar in 1975, skaars 12 maande later, is hulle wêreldberoemd en skatryk. Die mede-eienaar van die ateljee, Kingsley Ward, sou later in ‘n onderhoud met BBC Radio Wales vertel die groep het ‘n week hier gebly. Terwyl van die lede, waaronder die kitaar-maestro Brian May, buite frisbee gespeel het, was die hoofsanger besig om in die huis “iets te skryf”. Freddy Mercury was besig om by die klavier aan ‘n nuwe liedjie te werk waarvan die titel toe bloot Freddy’s Thing was. Maar dit was die geboorte van een van die mees ikoniese enkelsnitte in rockgeskiedenis, ses minute lank, ‘n mengsel van ballade, opera en rock, wat konvensie, reëls en die handboek vir rock in flarde geskiet het. Vandag, 50 jaar later, is daar kinders en tieners wat nog nie eers ‘n glinter in iemand se oog was nie, wat woord vir woord saamsing omdat dit deel van ‘n ouer of grootouer se plaatversameling was. Op 31 Oktober was Freddy Mercury se Bohemian Rhapsody 50 jaar oud en word dit dekades later steeds gevier as een die grootste enkelsnitte ooit. Hy wou nog altyd iets met opera doen, het Mercury in 1976 gesê. Dit moes aan die begin die stemming skep, dan ‘n “rock-tipe ding wat heeltemal afbreek in 'n opera-afdeling, 'n bose kinkel en dan terugkeer na die tema”.

Hy het erken self weet hy niks van opera af nie, net sekere stukke.

“Ek wou skep wat ek gedink het Queen kon doen. Dis nie outentiek nie... beslis nie. Dis geen soort stukkie uit Towerfluit nie. Dit was so ver as wat my beperkte kapasiteit my kon neem,” het hy verduidelik.

Wanneer hy dieper verduidelikings moes gee oor waaroor Bohemian Rhapsody régtig gaan, het Mercury gesê: “Ek gaan 'n paar illusies verpletter, dit was maar een van daardie stukke wat ek vir die album geskryf het: net my eie groep liedjies wat ek geskryf het.”

In ‘n vroeë stadium het hy dit amper gelos, het Mercury vertel, maar toe het dit “begin groei”. Op ‘n stadium het hy oorweeg om dit The Prophet’s Song te noem, maar uiteindelik sou Bohemian Rhapsody seevier. Toe wou die ander lede dit korter maak, maar Mercury het geweier.

“As dit vrygestel sou word, sou dit in sy geheel wees. Ons het geweet dit was baie riskant, maar ons het soveel vertroue in daardie liedjie gehad – ek het in elk geval. Ek het onder dit alles gevoel dat as dit suksesvol was, dit baie respek sou verdien. Mense het almal gesê: ‘Jy maak 'n grap, hulle sal dit nooit speel nie, jy sal net die eerste paar note hoor en dan sal hulle dit uitdoof.’ Ons het talle rusies gehad. EMI was geskok – 'n ses minute lange enkelsnit? ‘Jy moet sekerlik 'n grap maak!’ Dieselfde in Amerika – ‘o, jy het net daarmee weggekom in Brittanje.’”

Mercury het geweier om sy komposisie te verduidelik, behalwe om te sê dat dit oor verhoudings gaan en jare later beskerm die oorblywende groeplede steeds die liedjie se geheim.

Mercury self het dit beskryf as “een van daardie liedjies wat so 'n fantasiegevoel het. Ek dink mense moet net daarna luister, daaroor dink, en dan hul eie gedagtes opmaak oor wat dit vir hulle sê ... Bohemian Rhapsody het nie sommer net uit die niet gekom nie. Ek het 'n bietjie navorsing gedoen, alhoewel dit tong-in-die-kies en ‘n spot met opera was. Hoekom nie?”

May op sy beurt ondersteun voorstelle dat die liedjie versluierde verwysings na Mercury se persoonlike traumas bevat het. Volgens hom was Mercury 'n baie komplekse persoon: ligsinnig en snaaks op die oppervlak, maar hy het onsekerhede en probleme verberg. Hy het nooit die lirieke verduidelik nie, maar ek dink hy het baie van homself in daardie liedjie gesit." Volgens May het die groep ooreengekom het dat die kern van 'n liriek 'n private saak vir die komponis was.

Die liedjie is tussen Augustus en September 1975 deur Queen en medevervaardiger Roy Thomas Baker by vyf ateljees opgeneem. As gevolg van die opnamelogistiek van die era, moes die groep die snitte oor agt gedeeltes van 24-snit-bande versprei, wat beteken het dat hulle byna 200 snitte nodig gehad het om dit oor mekaar op te neem. Volgens ‘n vriend van Mercury wat ‘n klawerbordspeler vir die groep Smile was, het Mercury vir die eerste keer in die laat 1960’s aan Bohemian Rhapsody begin werk. Hy sou dele van die liedjies waaraan hy daardie tyd gewerk het op die klavier speel en een hiervan, The Cowboy Song, het lirieke bevat wat in die voltooide weergawe later jare in 1975 hul verskyning maak en spesifiek “Mama....just killed a man”. Roy Thomas Baker wat in 1972 saam met Queen begin werk het, het vertel hoe Mercury een keer in sy woonstel die deel van die openingsballade op die klavier vir hom gespeel het.

“Hy het die begin op die klavier gespeel, toe gestop en gesê: “En dit is waar die operagedeelte inkom. En toe gaan ons uit vir aandete!”. Volgens kitaarspeler Brian May het die ander gedink Mercury se bloudruk vir die liedjie was “interessant en oorspronklik, en die moeite werd om aan te werk". Volgens May is baie van Queen se materiaal in die ateljee geskryf, maar hierdie liedjie "was alles in Freddie se gedagtes" voordat hulle dit sou begin opneem het.

Die opname het op 24 Augustus 1975 by Rockfield Studio 1 naby Monmouth, Suid-Wallis, begin na 'n drie weke lange repetisie by Penrhos Court, naby Kington, Herefordshire. Tydens die maak van die liedjie is vier bykomende ateljees – Roundhouse, Sarm Studios, Scorpio Sound en Wessex Sound Studios – gebruik.

Mercury het 'n C. Bechstein-konsertvleuelklavier gebruik en as gevolg van die uitgebreide aard van die liedjie, is dit in verskeie dele opgeneem. Die klavier was na bewering dieselfde een wat Paul McCartney gebruik het om die Beatles se liedjie "Hey Jude" op te neem. Baker die vervaardiger het in 1999 "Bohemian Rhapsody" as “totaal mal” beskryf.

“Dit was basies ‘n grap, maar ‘n suksesvolle grap. Ons moes dit in drie verskillende eenhede opneem. Ons het die hele begingedeelte gedoen, toe die hele middelgedeelte en toe die hele einde. Dit was pure waansin. Die middelste deel het begin as net 'n paar sekondes lank, maar Freddie het aangehou om meer "Galileos" te speel en ons het aanhou om by die opera-gedeelte te voeg, en dit het net groter en groter geword. Ons het nooit opgehou lag nie ... Dit het as 'n ballade begin, maar die einde was swaar,” het Baker vertel.

May, Mercury en Roger Taylor het glo hul vokale dele vir 10 tot 12 uur per dag aaneen gesing. Die hele stuk het drie weke geneem om op te neem, en in sommige dele het dit 180 oorklankings bevat. In verskeie onderhoude het May onthou hoe Mercury se vokale oorklankings so besonder presies was dat hy 'n natuurlike fase-effek sou skep. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-11-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer