Kunstenaar van Groot Aub beïndruk president
Van homself draadrygkuns deur YouTube- en TikTok-video’s te leer tot die skep van ’n kunswerk wat aan president Netumbo Nandi-Ndaitwah oorhandig is, is die 25-jarige Dallin Noabeb se artistieke reis ’n bewys dat talent en deursettingsvermoë onverwagte deure kan oopmaak.
Gebore in Windhoek en getoë in Groot Aub, sowat 60 kilometer suid van die hoofstad, het Dallin drie jaar gelede vir die eerste keer draardrygkuns as ’n stokperdjie begin.
Wat as ’n kreatiewe tydverdryf begin het, het sedertdien tot ’n groeiende besigheid en ’n bron van nasionale erkenning ontwikkel. Die geleentheid wat hom in die kollig geplaas het, het deur sy werkgewer gekom.
Dallin werk die afgelope drie jaar by Droombos se lodge, ’n klipgooi oos buite Windhoek. Nadat hy sy kunswerk aan stigter Kallie van der Merwe – wat ook uitvoerende hoof van Safland Property Group is – gewys het, het hy gehoop om ’n kans te kry om stukke vir die lodge te maak.
In plaas daarvan het hy ’n onverwagte voorstel ontvang. Van der Merwe het hom genader met die geleentheid om ’n spesiale kunswerk vir Nandi-Ndaitwah te skep wat tydens die amptelike opening van Goreangab Mall oorhandig sou word.
“Ek het nooit gedink kuns sou ’n loopbaan word nie,” sê Dallin.
“Dit was altyd ’n stokperdjie totdat ek besef het daar is ’n geleentheid om ’n inkomste daaruit te verdien.”
Die opdrag het met ’n groot uitdaging gekom. Met net ’n paar dae voor die winkelsentrum se amptelike opening, is Dallin slegs 19 uur gegun om sy kunswerk van die logo te voltooi.
“Ek moes letterlik verlof insit by my werk om dit klaar te kry. Ek het min tot geen slaap gehad nie, want tyd was nie aan my kant nie.”
Die kunswerk het ongeveer N$550 se spykers en sowat 500 meter draad vereis, benewens die houtplanke, spuitverf en ontelbare ure se noukeurige werk.
Dié kuns berus op presisie en geduld, met elke spyker en elke draad wat doelbewus geplaas word om die finale beeld te vorm. Vir Dallin was die grootste uitdaging nie die materiaal nie, maar die tydsdruk van die spertyd.
“Die groenlig het eers drie dae voor die groot opening gekom. Ek moes ’n paar stappe vinnig afhandel, maar God het my deurgaans gefokus gehou.”
Ten spyte van die druk het hy vasbeslote gebly om sy eie standaarde te behaal voordat hy die finale kunsstuk afgelewer het.
“Ek glo persoonlik my stukke moet my vlak van tevredenheid bereik voordat ek dit aan die kliënt oorhandig,” sê Dallin.
“Ek het geweet mevrou die president gaan beïndruk wees.”
Om die kunswerk aan die president oorhandig te sien, was ’n trotse oomblik – nie net vir Dallin nie, maar ook vir sy familie.
“Ek is ’n baie besige mens en kry skaars tyd om saam met my familie en vriende te verkeer, maar my ma het gesê hoe trots sy was om my kunswerk in die president se hande te sien.”
Die blootstelling het nuwe aandag na sy werk getrek en sy oortuiging versterk dat kuns ’n volhoubare loopbaan kan word.
Sy eerste kunswerk wat hy verkoop het, het hom net N$500 in die sak gebring, in ’n tyd toe hy min geweet het van prysbepaling in die bedryf.
Vandag het hy ’n veel groter waardering vir die waarde van sy ambag en die geleenthede wat dit kan skep.
Dallin hoop sy reis sal ander jong Namibiese kunstenaars inspireer.
“Ek hoop om meer kunstenaars te inspireer as ’n figuur van hoop.
“My droom is om my kunswerke internasionaal in galerye en teaters uitgestal te sien.”


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie