Kunstebedryf in hul skik met NNN

'Kunste nie waar ons wil dit hê'
Iréne-Mari van der Walt
Nadat Netumbo Nandi-Ndaitwah in Maart vanjaar haar eerste ampstermyn as president begin het, het sy ’n begroting van N$50 miljoen aan die kunste toegeken en het sedertdien die lofsange van verskeie

kunstenaars ontvang.

"Ek glo dat die huidige presisdent ’n evolusie vir die kunste meebring. Natuurlik het sy aangekondig dat ons ’n begrotingstoekenning van N$50 miljoen vir die kunste sal hê, wat kunstenaars bemoedig omdat daar nou fondse is vir nuwe kunstetoekennings," het die direkteur van die ENK Public Art Group en lid van die nasionale raad vir die kunste, Emmanuel Enkara, in ’n onderhoud met Network Media Hub (NMH) se program, Kletskompas, gesê.

Enkara glo dat Nandi-Ndaitwah die winde van verandering vir verskeie kunssoorte meegebring het en dat hierdie die kern van Namibië se identiteit raak. "Binne-in die siel van Namibië is daar kuns. Daar is

kuns in die siel van elke land. Ek glo die president het ook siel in die regering en leierskap gebring en ek dink sy weet sy moet die kunste daarmee saambring," het hy gesê.

Enkara is ook van mening dat die Namibiese kunstebedryf gereed is om die beste van die geleenthede te maak wat die president vir hulle bied. "Ek glo die beleide is in plek om die kunstebedryf te laat groei."

Die Namibiese kunste ly egter steeds onder ’n kykerspubliek wat volgens Enkara nie belangstelling daarin toon nie. "Daar was nog altyd erkenning vir die kunste, maar nie waar ons dit sou wou hê nie. Mens sou dink met ’n kleiner bevolking sou ons meer waardering vir die kunste gehad," sê hy.

Enkara glo ook dat die kunste kan help om ander regeringskwessies soos werkloosheid te takel, maar hy sê daar moet voldoende infrastruktuur hiervoor wees. "Daar moet organisasies en platforms in

plek wees vir hierdie mense en studente."

Die voorsitter van die Filmmakersvereniging van Namibië (FAN), Byron Joseph, het ook op Kletskompas die nuwe president se lof besing. "Ek dink wat nou gebeur het hierdie jaar met die nuwe bewind en ons nuwe president wat ’n baie sterk voorstander van die kunste is - en ons waardeer dit baie - is daar nou groter ondersteuning vir die bedryf," sê Joseph.

Hy sê egter dat FAN belanghebbendes aanraai om nie die geleenthede wat hulle ontvang, te verbeur nie. "Een ding wat ons by die filmmakersvereniging sterk beklemtoon, is dat ons moet versigtig wees dat hierdie nuwe fondse en dryfkkrag om die bedryf te laat groei, nie in die verkeerde rigting moet gaan nie.

"Sedert verlede jaar is ons besig met die kunsteraad in die ministerie en die Namibiese raad vir die bevordering van beleggings en ontwikkeling (NIPDB) waar ons aan programme en konsepte gewerk het wat ons graag wil voorstel om die bedryf te help groei," sê Joseph.

Hy sê FAN is daarop ingestel om ’n volhoubare inkomste vir filmmakers te kan verseker.

"Fondse is ’n probleem. Alhoewel daar in die verlede fondse was, was dit te min om dit volhoubaar oor die langtermyn te maak. Die ondersteuning wat ons gekry het was ook bietjie ver uitmekaar uit en so kan jy nie ’n bedryf bou nie."

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-08-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer