Kultuur én krieket in ‘Cattle Country’

Rozanne Swart

Tot Saterdag is Gobabis die Afrikaanse kulturele en kriekethartklop van Namibië wanneer die Napso Nictus Holdings Kuns- en Kultuurfees en die Spar/Build-It Napso-krieketfees plaasvind. Hierdie spoggeleentheid word vanjaar met trots deur Gobabis Gimnasium aangebied en beloof om feesgangers van heinde en verre te betower.

Die fees is ’n viering van die skeppende gees en bied ’n platform vir ’n wye verskeidenheid kunsvorme. Van meesleurende toneelspel, voordrag en koorsang tot betowerende musiekoptredes, dans en visuele kuns – die verhoog is gereed om Namibië se mees talentvolle leerlinge en kunstenaars te laat skitter.

Johan-André Fourie, uitvoerende hoof van Napso, het benadruk dat die fees ’n platform skep waar leerlinge hul talente en gawes kan ontwikkel en uitleef. 

“Ons wil hê dat elke kind die geleentheid moet kry om sy of haar unieke gawes te ontdek, te ontwikkel en met trots aan ander te vertoon. 

“Die fees gaan egter oor veel meer as net prestasie – dit gaan oor die viering van taal, kultuur, kreatiwiteit en die besondere talente binne ons privaat skole.”


KRIEKETFEES

Maar die opwinding eindig nie by die verhoog nie! Vir die sportliefhebbers is daar ook groot rede tot feesviering. Die jaarlikse Spar/Build-It Napso-krieketfees vind terselfdertyd plaas.

Die proewe vir die Napso-krieketspanne, wat na Suid-Afrika sal toer, het gister plaasgevind. Van vandag tot Saterdag word T10- en T15-vriendskaplike wedstryde gespeel.

Die week gaan oor meer as net kuns en krieket. Daar sal ook ’n skryfskool, aangebied deur die ATKV, plaasvind, met Tanja Franzen en Luandri Reynders as aanbieders. 

Mnr. en Mej. Napso sal tydens die fees gekroon word. Vir diegene wat wil opdollie en mooi aantrek, is daar die gala-aand, waar van die beste kunstenaars sal optree.

Marlene Peens, die onderwysers en organiseerder by Gobabis Gimnasium, verseker almal daar is iets opwindends vir elkeen.

“Daar is aksiebelaaide krieket, lekker toneelstukke, kooroptredes en verskeie gedigte wat voorgedra word. Enigeen kan kom sit en daarna kyk.” 

Daar is ’n groot verskeidenheid van stalletjies waar feesgangers na hartelus kan koop, asook ’n teetuin waar jy kan rus, klets en en lafenis vir die keel soek.

Peens het ook verseker dat veiligheid gedurende die fees ’n prioriteit is en dat sekuriteit aangestel is om die geslote parkeerareas regdeur die fees te bewaak. 

Sy het egter ook benadruk dat Gobabis ’n veilige dorp is en dat die gemeenskap na mekaar omsien.

Gobabis Gimnasium nooi die hele gemeenskap, ouers, ondersteuners en kunsteliefhebbers van oraloor die land uit om die pad ooswaarts te vat en hierdie uitsonderlike fees saam te kom vier.

Kom ervaar die onvergeetlike talent, gesonde kompetisie en uitstaande gasvryheid!

– [email protected]



Kommentaar

Republikein 2026-10-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer