Kreatiewe sektor moet ekonomiese krag word

Outentieke, geleefde ervarings
Namibië se kreatiewe bedrywe moet tot volhoubare ondernemings ontwikkel word.
Elizabeth Kheibes

Namibië moet verder beweeg as om kultuur bloot te beskou as ’n manier om erfenis te bewaar. 

Volgens die goewerneur van die Khomasstreek, Sam Nujoma, moet die kreatiewe sektor gesien word as ’n belangrike bydrae tot die skep van werksgeleenthede, ondernemings en ekonomiese groei. 

Nujoma was Woensdag aan die woord tydens die amptelike opening van Namibia – A Photographic View in Windhoek. Die uitstalling van fotografiese werke fokus op Namibië se gemeenskappe, omgewing, droogte en klimaatsverandering. 

“Ons moet kunstenaars begin erken as entrepreneurs, werkgewers, innoveerders en bydraers tot nasionale ekonomiese groei,” het Nujoma gesê.

Die uitstalling is die gevolg van samewerking tussen Stad Windhoek (CoW), die stad Mannheim in Duitsland, die Reiss-Engelhorn-museum in Mannheim en die Nasionale Kunsgalery van Namibië. 

Dit is in November 2025 in Mannheim bekendgestel en toe na Windhoek gebring. 

Volgens Nujoma wys die inisiatief hoe internasionale kulturele samewerking verder as simboliese uitruilings kan beweeg en praktiese geleenthede vir Namibiese kreatiewe persone kan skep. 

“Die uitstalling is die produk van samewerking, gesamentlik geskep en verwesenlik deur Stad Windhoek en Stad Mannheim, met die Reiss-Engelhorn-museum en die Nasionale Kunsgalery van Namibië.” 

Nujoma het die twee stede aangemoedig om die vennootskap te versterk deur gesamentlike uitstallings, kunstenaarsverblyf, kuratoriese uitruilings, asook programme vir die ontwikkeling van vaardighede vir jong fotograwe en filmmakers. 

“Elke sodanige medeproduksie plaas Namibiese kreatiewe werk voor Europese gehore en bring internasionale kundigheid, belegging en sigbaarheid in ons kreatiewe sektor,” het hy gesê.

HUIS TOE

Windhoek se burgemeester, Sakarias Uunona, het op sy beurt gesê die uitstalling verteenwoordig meer as ’n artistieke vertoonvenster en is dit ook ’n weerspieëling van die langdurige verhouding tussen die twee stede. 

“Dit is veel meer as ’n fotografiese uitstalling. Dit is ’n viering van vriendskap, samewerking en gedeelde waardes tussen ons twee stede wat, hoewel hulle deur duisende kilometers geskei word, steeds verbind is deur ’n gemeenskaplike oortuiging dat kultuur die mag het om mense byeen te bring, dialoog te inspireer en tot ’n volhoubare toekoms by te dra,” het Uunona gesê.

Volgens hom het die verhouding tussen die twee susterstede ontwikkel in ’n vennootskap gebaseer op wedersydse respek, die uitruil van kennis en samewerking tussen mense.

Die uitstalling het volgens Uunona Namibiese fotograwe in staat gestel om outentieke stories oor die land deur hul eie perspektiewe en geleefde ervarings te vertel. 

“Die foto’s bied meer as visuele ervarings. Dit nooi ons uit om te besin oor wie ons is, die gemeenskappe waarin ons leef en die omgewings- en maatskaplike uitdagings wat ons lewens vorm,” het Uunona gesê.

Deel van die uitstalling is die internasionaal bekroonde fotograaf Margaret Courtney-Clarke se Geographies of Drought, wat fokus op die gevolge van droogte en omgewingsverandering op Namibiese gemeenskappe.

Volgens Uunona hou Namibië se versengende droogtes gevolge vir voedselsekerheid, biodiversiteit, lewensbestaan en die welstand van gemeenskappe in. 

“Tog, bo en behalwe die ontbering, vertel hierdie foto’s ’n ander storie. Hulle openbaar veerkragtigheid, innovering en moed,” het hy gesê.

Die burgemeester het ook die jong fotograaf Rachel Ngeitokondjo Sakeus uitgesonder, wie se dokumentêr Tura Story ’n eervolle vermelding ontvang het. Volgens Uunona weerspieël Sakeus se werk die talent wat uit Namibië se jonger geslag na vore kom. Hy het gevolglik versoek dat kreatiewe jong mense groter ondersteuning vir toegang tot plaaslike en internasionale gehore kry. 


KULTUUR

Onderburgemeester Nangula Amutenya het die belangrikheid van belegging in kuns, kultuur en erfenis as basis vir volhoubare stede beklemtoon.

Sy het die Duitse vennote, insluitend die Reiss-Engelhorn-museeum en ZEPHYR – Raum für Fotografie, bedank vir hul hulp om Namibiese kunstenaars van ’n internasionale platform te voorsien. 

“Aan Margaret Courtney-Clarke, dankie dat jy ons daaraan herinner dat fotografie harte kan roer, geskiedenis kan bewaar en optrede kan inspireer,” het Amutenya gesê. 

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-08-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer