Koningin van 'ruffles'
Terwyl 2025 'n bepalende jaar was, gaan hierdie jaar alles oor doelbewuste groei en om haar vlerke nog verder te sprei. Die modeontwerper en kreatiewe direkteur van House of Poulton, Melisa Poulton, het haar oog op die Europese mark.
House of Poulton is tans in ‘n fase verfyning en strategiese posisionering, vertel Melisa om as ‘n luukse uitvoerhandelsmark die wêreld se modeverhoog te betree.
Die nuwe fase volg nadat sy die eerste Namibiese handelsmerk geword het wat in Oktober verlede jaar by die toonaangewende Paryse Modeweek op die loopplank ten toon gestel is.
Sy versterk haar identiteit as die "Koningin van Ruffles" en ontwikkel silhoeëtte, terwyl sy na saamgestelde internasionale markte uitbrei, verduidelik Melisa.
Haar antwoord op ‘n voorsmaak van wat vir House of Poulton in die toekoms wag, deel sy planne om meer gestruktureerde kapsule-versamelings en om ‘n boetiek te open waar modebewustes een van haar unieke skeppings kan huur.
House of Poulton het vir vanjaar ook planne om op massaproduksie te fokus met die doel om luukse Namibiese produkte aan internasionale boetieks te verskaf.
Een van Melisa se vele belangstellings is modefilms as ‘n globale manier om stories te vertel, iets wat sy wil gebruik om Namibië as ‘n “luukse, visuele verhaal” eerder as net ‘n bestemming te deel. Dit is om meeslepende projekte te skep van die verhaal van mode gewortel in Namibiese landskappe, verduidelik Melisa.
Een van haar prioriteite is om ‘n brug tussen mode, leefstyl en toerisme te bou, met potensiële samewerking in die toekoms wat wynlandgoedere sal insluit.
“Die doel is om spesiale mode-oomblikke te skep eerder as die tradisionele loopplankvertonings,” sê Melisa.
Die groei van Namibië se modebedryf is volgens haar “opwindend”, met plaaslike ontwerpers wat al hoe meer “doelbewus, selfversekerd en sake-gerig raak”.
Volgens Melisa het die Namibiese modebedryf egter struktuur en volhoubaarheid nodig. Volgens haar is sterker stelsels vir kleinhandel, ondersteuning vir die uitvoer van produkte, die ontwikkeling van vaardighede en langtermyn beleggings in die bedryf as ‘n bydraer tot die ekonomie en nie bloot as ‘n kreatiewe uitlaatklep nie, noodsaaklik om die plaaslike bedryf te versterk.
“Namibië het talent. Wat ons nou nodig het, is infrastruktuur en geloof. As ons dit koester, kan die volgende dekade herdefinieer hoe die wêreld Namibiese mode sien,” sê Melisa.
Buiten vir die bou van House of Poulton as ‘n handelsmerk is sy ook passievol en verbind tot die bou van 'n nalatenskap wat deure oopmaak vir die volgende generasie Namibiese ontwerpers oopswaai.
Sy erken die debuut van House of Poulton by die Paryse Modeweek in Parys, Frankryk, was beslis ‘n hoogtepunt in wat sy as ‘n bepalende jaar vir haar handelsmerk beskryf. “Om 'n Namibiese luukse handelsmerk op daardie platform te kon vertoon, was beide emosioneel en ‘n bevestiging.”
Om die land en House of Poulton in die buiteland op en ook af van die internasionale loopplank te kon verteenwoordig, was haar kernprioriteit, vertel Melisa.
“Benewens die vertoning self was dit ‘n ongelooflike bevestiging om die internasionale reaksie op ons vakmanskap, ons ‘ruffles’ en ons storievertelling deur middel van mode en Namibiese landskappe te sien,” sê Melisa.
Sy het haar dankbaarheid uitgespreek teenoor vennote wat elk ‘n unieke rol gespeel het om die ervaring onvergeetlik te maak. Dit het haar laat voel asof Namibië saam met haar op die loopplank was, sê Melisa dankbaar.
“Ek is innig dankbaar teenoor die Kunsteraad van Namibië, FlyNamibia, die Namibiese Toerismeraad, O&L Leisure, Kolmanskuppe Lüderitz, MTC Windhoek Modeweek, 99FM, en Ogilvy Namibia.”


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie