Kind van rooi grond en oop vlaktes

Henriette Lamprecht

Sy het duisende volgelinge op haar Facebookblad, Hekelwoorde, waar “voel en lag en huil en opstaan se woorde gesê word soos dit is”. 

Die skrywer Tania Smit se ongelooflike manier om dit wat jy voel en dink oop en skoon te skryf in woorde en ’n taal wat jy verstaan en uiteindelik sin maak, maak haar skryfsels en boeke ’n moet-lees.

Namibiërs het nou die voorreg om Tania (en haar skryfsels) in lewende lywe te ontmoet tydens ’n baie spesiale Ma-en-dogter-ontbyt wat op 17 Oktober in die Windhoek Afrikaanse Privaatskool (WAP) se Andries du Plessis-saal gehou word. 

Tania het ’n noue band met Namibië en op Hekelwoorde skryf sy met deernis van haar grootwordjare in die land en haar huisdokterpa se reise met die Oshakati-hospitaal se Ford F-250 4x4 om die rondgaande kliniek te gaan beman. Festus, sy Owambo-gids is agterop om die pad aan te wys en haar pa en ma wat ’n suster was, sou by al die bekende hospitaalbome stop “waar die wêreld se mense geweet het dis tyd, en al met vaal-vêrstap-kaalvoete en krom rûe in lang rye gewag het as hulle daar aankom”.

Vir ’n week sou hulle op die grond in die veld geslaap het langs ’n “diere-skrikmaakvuur en ’n geweer”. 

Tania skryf met ’n groot skeut nostalgie oor Oshakati se mense wat ná werk op die tennisbaan gaan afkoel het, sy en haar boetie se stap deur die natgereënde stofstrate, die leer kanoe ry met oranje life jackets op die Nautedam se “dankbare bruin water”, buite slaap onder regte sterre, en “hoe ons met taai hare agterop plaasbakkies gestaan en deur velde met geel grasvlaktes en altyd perfekte grensdrade gery het”.

“Ek onthou Namibië in prentjies, en emosies. Die hitte, die stilte, die sonbesies, die vrede, maar veral die dae. Onopgesmukte gelukkige kinderdae. Die land wat my leer kettie skiet, klipgooi en soos ’n man leer fluit het. En my geleer het om op die grond onder ’n boom langs ’n vuur te sit, nie op ’n stoel nie. Daai memories het deel van my bloed geword, en dit vloei elke dag nog deur my are,” skryf Tania. 

Kaartjies vir die oggend van hoop, musiek en getuienis is teen N$350 per persoon by Chrisna by 081 625 0167 of [email protected] of in kontant by WAP se kantoor beskikbaar. Die spesiale oggend is ten bate van WAP se kankerhulpfonds en Netwerk Namibië se Onderwys- en studiefonds. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-10-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer