Kassie Kasselman bly ná 16 boeke topspeurder
Elke speurder arriveer op sy of haar eie manier: Met ’n skoot, met ’n lyk. . . of met ’n versameling posseëls.
In Bettina Wyngaard se Knal (Umuzi. 2025) word Nicci de Wee deur gevaar bekend gestel. Reeds op die eerste bladsy hardloop sy vir haar lewe. Skote klap. Sy word getref. Die leser beleef die toneel deur pyn, verwarring en adrenalien.
Martin Steyn het in Donker spoor (Lapa, 2014) ’n ander benadering. Adj. Colin Menck word deur sy beroep bekendgestel. Hy is op pad na ’n moordtoneel. Die eerste indruk is een van ervaring. Hy praat oor sy gesin, spot met sy kollega en beweeg met die moegheid van iemand wat al baie gesien het. Wanneer Menck later opmerk dat “al sy skarniere Q20 kort”, word die speurder se gehawende liggaam byna ’n karakter op sy eie.
Rudie van Rensburg kies egter ’n unieke uitweg met sy nuutste krimi.
Enigma open nie met Kassie Kasselman nie. Inteendeel, daar is eintlik eers twee openings voordat Kassie verskyn. En wanneer dit uiteindelik gebeur, is die kontras byna komies.
Eenvoudig: “Kassie sit by sy lessenaar. . .” waarna bladsye volg oor seëloudits. historiese skepe op Mosambiekse posseëls en Gertjie Gieter en die dinamika van sy huwelik.
Van Rensburg vertraag sy roman doelbewus. Waar Wyngaard gevaar en Steyn ondersoek gebruik om hul karakters bekend te stel, wys hy eers die man voordat hy die speurder wys.
Waar baie moderne speurders deur trauma, verslawing of geweld gedefinieer word. is dit met Kassie aanvanklik deur sy gewoontes, belangstellings en huislike lewe.
Die verskil lê egter nie net in karakterisering nie, maar ook in die manier waarop spanning geskep word.
Knal werk volgens die beginsel van onmiddellike spanning: lemand kan doodgaan.
Donker spoor funksioneer volgens die beginsel van ondersoek: Iets het reeds gebeur en moet opgelos word.
Enigma glo aan die beginsel van uitgestelde spanning. Die gegewe: ’n Angolese sakeman word met twee koeëlgate in sy bors in ’n hotelkamer in Kaapstad aangetref en Kassie en Rooi vat die spoor. Wat in die vermoorde se bagasie gekry word, slaan hulle dronk.
Die spanning: Wie is Adam? Waarom die moord? Hoe gaan Antwerpen uiteindelik met Suid-Afrika verbind word? Hoe verskil Shine on You se gekweekte diamante van bloeddiamante? Hoe pas die maatskappy Enigma in die legkaart?
En belangriker: Watter rol gaan Kassie in dié groter legkaart speel? Dit is juis die vertroue in uitgestelde spanning wat Enigma van baie ander Afrikaanse misdaadromans onderskei.
Die verskil word selfs nog duideliker wanneer ’n mens kyk na hoe Van Rensburg geweld inspan.
Johan Jack Smith se Zola (Penguin Random House. 2019) open met een van die grusaamste tonele in onlangse Afrikaanse misdaadfiksie.
Ons word nie eers by die ondersoek ingebring nie, maar by die moordenaar self. Smith bly lank binne die moordenaar se perspektief. Die geweld word konkreet, fisiek en ontstellend. Die sentrale vraag van die opening is eenvoudig: Watter mens doen so iets?
In Van Rensburg se opening is die moord skokkend, maar opvallend ingetoë. Die toneel word vinnig afgehandel en hy vertoef nie by grafiese beelde nie.
Waar Smith die leser dwing om na die lyk te kyk, dwing Van Rensburg ons om op die patrone te let. Die titel verklap reeds sy prioriteit: Nie die lyke nie, maar die raaisel.
Die moord is nie die eindpunt van die opening nie, maar die eerste blokkie van ’n legkaart.
Dit verklaar ook waarom Enigma se eerste 100 bladsye so anders lees as baie moderne misdaadromans. Die roman jaag nie van skok na skok nie; dit plant leidrade wat eers veel later betekenis kry.
Selfs wanneer die leser dink die patroon begin sigbaar word, voeg Van Rensburg nuwe stukke by die legkaart. Die spanning ontstaan nie uit die vraag of iemand die volgende hoofstuk gaan oorleef nie, maar uit die vermoede dat alles reeds verbind is op maniere wat die leser nog nie kan sien nie.
Waar byvoorbeeld Mike Nicol se misdaadromans dikwels teen hoë spoed vorentoe beur, werk Van Rensburg meer berekend. Sy prosa fokus minder op aksie as op patroonvorming. Hy plaas leidrade, verskuif perspektiewe en laat die leser self verbindings maak.
Dit gee Enigma ’n rustiger ritme as baie kontemporêre spanningsromans, maar ook ’n besondere bevrediging wanneer die stukke uiteindelik op hul plek val.
Nog ’n plesier van Enigma lê in Van Rensburg se vermoë om die leser voortdurend op die verkeerde spoor te plaas. Net wanneer jy dink die legkaart begin vorm aanneem, skuif hy die stukke rond.
Soos met sy beste Kasselman-dossiere laat Van Rensburg die leser glo hy is die moordenaar een tree voor – net om te ontdek die skrywer is steeds twéé treë voor almal.
Juis daarin lê Van Rensburg se grootste onderskeidende eienskap as spanningskrywer. Hy vertrou die raaisel meer as die geweld.
Waar ander spanning uit gevaar of wreedheid put, put hy dit uit nuuskierigheid. Ons lees nie verder omdat ons geskok is nie, maar omdat ons wil weet hoe alles by mekaar inpas. In ’n speurroman is daar min kragte sterker as dit.
En wanneer die legkaart uiteindelik voltooi word, voel die oplossing onvermydelik eerder as gedwonge.
Nog ’n rede waarom die Kasselman-reeks ná 16 romans steeds werk, is dat Van Rensburg sy karakters natuurlik laat verouder.
Kassie staan nie stil nie. Sy huwelik met Amalia, sy ouderdom en die moontlikheid van aftrede gee gewig aan selfs die stiller tonele. Lesers keer nie bloot terug vir die volgende moordsaak nie, maar na mense wat oor die jare soos ou kennisse geword het.
Enigma bevestig waarom Kassie Kasselman steeds een van die mees geliefde speurders in Afrikaans bly. Nie omdat hy die hardste skiet of die donkerste demone dra nie, maar omdat Van Rensburg verstaan wat baie spanningskrywers vergeet: Skok vervaag en geweld word alledaags, maar ’n goeie raaisel verloor nooit sy krag nie.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie