Karakters, situasies en klankbaan laat die grootskerm lewe

Barry de Klerk

Die beste manier om die Halloween-seisoen af te skop, is met ’n grillerige fliek wat jou na jou asem laat snak omdat jy nie kan ophou lag nie.

Shaun the Sheep: The Beast of Mossy Bottom bied 80 minute se pure komedie; en om te dink ek het dit amper nie gaan kyk nie. My nefie moes my oorreed om dit te gaan kyk en selfs toe het ek net gegaan omdat hy wou. Ek het amper een van die beste gesinsflieks van die jaar misgeloop.

Ek gaan eerlik wees, hierdie fliek dryf die spot met ’n klomp gruwelflieks en popkultuur-ikone en ek was absoluut mal daaroor. Die openingstoneel alleen het my laat besef ek gaan baie pret in die rolprentteater hê. Daar is nie baie flieks wat my vir amper 80 minute aaneen kan laat lag nie, maar hierdie een het dit reggekry.

Dit is nie net ’n uitstekende komedie nie; die gruwel-elemente is ook fantasties. Nou, ek weet hierdie is ’n gesinsfliek en ouers wil gewoonlik nie hê hul kinders moet na iets angswekkends kyk nie, maar hierdie een het ’n grillerige tema sonder om werklik die gehoor bang te maak.

Dit dryf die spot met gruwelkonvensies (tropes) en -karakters sonder om oordrewe simpel te raak. Dit vind die perfekte balans tussen die storie en die humor. Ek gaan nie die fliek se storielyn bederf nie, maar ek wil wel sê hierdie fliek het ’n paar kinkels en draaie wat ek glad nie verwag het nie. 

Dit speel soms amper soos ’n spanningsvolle riller af en dit is een van die redes waarom dit soveel pret is. Die storie bereik ’n bevredigende einde; dit beteken egter nie dat ek nie deur die loop van die fliek ’n paar vrae gehad het nie.

Ek kan nie veel oor die toneelspel sê nie, aangesien daar geen konvensionele dialoog in hierdie fliek is nie. Dink aan Mr Bean, maar met skape wat van klei gemaak is. Die humor lê in die karakters en die situasies. 

Ek geniet wel al die gemor en gemompel; dit herinner jou daaraan dat hierdie karakters op een of ander manier met mekaar kan kommunikeer.

Ek was nog nooit regtig ’n aanhanger van klei-animasie nie, maar ek respekteer die werk wat daarin ingaan. Ek dink die filmmakers het baie harde werk ingesit en dit is wat hierdie soort flieks selfs meer besonders maak.

Hierdie fliek kombineer veral verskillende filmtegnieke op ’n uitstekende manier, wat tot die storievertelling bydra. Dit bevat ook ’n paar tradisionele geanimeerde tonele waarvan ek baie hou.

Soos ek gesê het, die karakters praat nie regtig nie, dus maak die storie staat op die fliek se musiek en klankbaan om meer lewe aan die skerm te gee. Die fliek het ’n uitstekende klankbaan wat tot die grillerige aspekte van die fliek bydra. Dit bevat ook ’n paar lekker liedjies wat deur die storie verweef is.

Shaun the Sheep: The Beast of Mossy Bottom het ’n lang titel, maar dit is ’n redelik kort fliek wat jou nog jare lank oor die storie sal laat nadink. Dit het maklik een van my gunstelingflieks van 2026 geword en ek dink baie mense gaan daarvan hou. 

Dit herinner my baie aan flieks uit die 1990’s, veral wat die humor betref. Dit is amper soos ’n fliek vir millenniërs, maar Gen Alpha gaan absoluut mal daaroor wees. Dit is ’n maklike 4 uit 5 sterre vir my.

 – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-11-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer