Joalette vir Silwerskerm-toekenning benoem

-
-
Francoise Steynberg

Namibië se eie potjiekos-fynproewer, Joalette de Villiers, is as die beste aanbieder in ’n leefstylprogram vir die Silwerskerm-toekennings vir film en televisie benoem.

As aanbieder van die gewilde eg Namibiese leefstylprogram, Op pad met my potjie, gaan sy meeding met die befaamde Hannes van Wyk van Kwêla en Jan Scannell van Jan Braai vir Erfenis, asook Marco Botha van Santam Megaboere, Natie Ferreira van Fanaties, Leah van Lottoland Help ’n dorp, Lundi Khoisan van Fiësta en Johan en Zanelle Dorfling van Bou of breek. 

“Kan jy dit glo? Nogal saam met daai klas van talente en dan sit hulle my ook daar in. Dis ongelooflik!” het Joalette geantwoord op die vraag oor hoe sy oor haar benoeming voel. 

“Hierdie benoeming voel regtig klaar vir my soos ’n wen vir my en my span. Ek sal dit nie sonder hulle wil, of kan doen nie,” het sy gister aan Republikein gesê.

Sy het unieke ervarings gehad terwyl sy die tweede reeks van Op pad met my Potjie verfilm het.

“Ek het leer mozzarellakaas maak, boerseep kook, leerwerk doen, visvang en selfs ’n krokodil gevoer! Hierdie seisoen was propvol nuwe, unieke kennis. Absoluut besonders.”

Joalette van Swakopmund het kykers weer op ’n toer deur Namibië geneem waar sy in elke episode nuwe geheime van die land se kookkuns ontdek het – met ’n driebeenpot in die hand.

Die goeie nuus dat die derde seisoen van Op pad met my potjie binnekort verfilm sal word, is deur die meesterbrein en regisseur van die program, Pedro Mendoza, bevestig. 

Die wenners word op Saterdag 22 Augustus by die glansryke afsluiting van die Silwerskermfees in die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum aangekondig. Die wenners van die beste speelfilm en beste filmakteurs wat by die fees gedebuteer het, word ook by dié geleentheid aangekondig.

“Vanjaar se benoemdes verteenwoordig die kreatiewe uitnemendheid waarop ons bedryf gebou is. Ons bring hulde aan hul talent, toewyding en voortdurende strewe na gehalte. Deur hul werk help hulle om Suid-Afrikaanse stories nie net te vertel nie maar om dit betekenis te gee in ons kykers se lewe,” sê Waldimar Pelser, direkteur vir Premium-kanale by MultiChoice, ’n Canal+-maatskappy.

Die toekenningsgeleentheid word op Sondag 23 Augustus om 19:00 op kykNET uitgesaai. Die name van die aanbieders en spesiale kunstenaars wat gaan optree, sal later bekend gemaak word.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-07-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer