Inskrywings vir gewilde kunskompetisie open
Inskrywings vir die Bank Windhoek Triënnale het onlangs geopen, die eerste triënnale met ’n tema.
Vanjaar se tema is “Namibiese identiteit: Die lyne van ’n land se kontoere en rykdom”.
Die hoofkurator vir die Nasionale Kunsmuseum (NAGN), wat die kompetisie aanbied, Ndeenda Shivute-Nakapunda, verduidelik dat die pryse in vanjaar se triënnale minder, maar groter is.
“Ons het besef as ons minder pryse het, kan ons groter bedrae in prysgeld weggee.
“Ons wil hê die prysgeld moet nie minder wees as wat die kunstenaar se kunswerk werd is nie en ’n bedrag toeken wat werklik ’n verskil in ’n kunstenaar se loopbaan kan maak en hulle in staat kan stel om nog kuns te skep en sodoende ook ’n loopbaan daarvan te maak,” het sy in ’n onderhoud op Network Television (NTV) se program Kletskompas gesê.
Die eerste prys in vanjaar se triënnale is N$50 000 en ’n solo-uitstalling by die NAGN. Die tweede prys is N$30 000 en ’n beurs vir materiaal terwyl die kunstenaar in die derde plek N$20 000 sal ontvang. Die inskrywingsvorm en die kunstenaar se kunswerk moet teen 27 Mei ingedien word.
“Die openingsuitstalling sal op 6 Augustus om 18:00 by die NAGN aangebied word – almal is uitgenooi,” sê Shivute-Nakapunda.
Die kurator meen hierdie kompetisie is een van die belangrikste platforms waardeur die gehalte en waarde van Namibiese visuele kunste ten toon gestel word. Sy moedig Namibiërs verder aan om plaaslike kunstenaars te ondersteun.
“Ons koop al hierdie goed by die winkels om ons huise mooi te maak, maar jy kan eintlik ’n Namibiese kunswerk vir dieselfde prys koop wat jou huis sal verfraai met ’n narratief waarmee jy kan vereenselwig.
“En jy ondersteun letterlik iemand se lewensbestaan en die lewensbestaan van hul gesinne.”
Sy meen ook dat Namibiese kuns ’n belegging kan wees.
“Kuns verloor nie waarde nie, so jy koop ’n bate. Kyk na [John] Muafangejo; sy werk is nou derduisende dollars werd, waar dit eens N$50 gekos het,” sê Shivute-Nakapunda.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie