Hope Namibia spog met vanjaar se wenners
Hope Namibia Nationals het tydens ’n spesiale geleentheid hul koninginne vir vanjaar gekroon en ook die amptelike kroon en serp onthul. Die 14 gekroondes is erken vir hul ondersteuning van Huis Maerua en om sodoende die boodskap van hoop deur Namibië te versprei.
Die 14 koninginne is Miné Kolver, Adelei Strauss, Behnette Haccou, Marizaan Jefferies, Alicia Dobson, Esmé Steenkamp, Megan Gevers, Kirstie Strydom, Bea De Villiers, Wilmien de Villiers, Vivian Beukes, Venessa Beukes, Emily Sparg en Christine Kuhn.
Die jongste kroondraer is die vyfjarige Miné Kolver wat fondse ingesamel het om ’n tuimeldroër aan Huis Maerua te skenk.
Anita Senekal is ’n voormalige model, afrigter, skrywer, radiopersoonlikheid en voormalige skoonheidskoningin met talle titels agter haar naam wat in 2024 Mr en Miss Hope Namibia National gestig het.
“Hoop is nie iets waarvoor ons wag nie – dit is iets wat ons kies om te word. Elke mens het die krag om die wêreld rondom hulle te verlig,” sê Anita.
Sy beklemtoon Hope Namibia National is nie ’n skoonheidskompetisie nie, maar ’n beweging wat vroue en meisies bemagtig om met vriendelikheid te lei, hul gemeenskappe te dien en ambassadeurs van hoop te word.
Haar hoop was nooit dat dit ’n tradisionele kompetisie moet wees nie, sê Anita, maar eerder ’n platform waar hoop deur leierskap en deernis gedeel word en deelnemers ’n ligdraer in hul onderskeie gemeenskappe is.
Sedert 2024 het Hope Namibia National die land se naam ook op die wêreldverhoog hoog gehou. In dieselfde jaar bring Melanie van der Merwe ’n gesogte internasionale titel huis toe, terwyl ook Amoré Smit in 2026 internasionale erkenning verwerf. – [email protected]


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie