‘Hoort’ verken kulturele diversiteit
Teaterliefhebbers kan uitsien na ’n verkenningstog van kultuur en identiteit in Hoort met Stephanie Baartman.
Dit word as deel van die FNB Windhoek Woordfees op 13 Maart in Windhoek en 14 Maart in Swakopmund aangebied.
Dié semi-outobiografiese kabaretstuk verweef staaltjies en stories uit Baartman se lewe as die dogter van twee predikante en onthul haar soeke na sekuriteit in die konteks van Suid-Afrika se onstuimige geskiedenis.
Sy deel snaakse en ook roerende oomblikke uit haar lewe, sowel as kulturele misverstande rakende identiteit.
Hoort werp die kollig op gemarginaliseerde groepe. Dié stuk is ook ’n viering van kulturele diversiteit met’n wye verskeidenheid musiek – insluitend jazz, gospel en oorspronklike musiek in verskeie tale.
Alhoewel Janine Neethling voorheen die begeleidende pianis vir Hoort was, sal Coenraad Rall vir die eerste keer sedert sy verskyning by die ATKV Pluimpies saam met Hannes van Wyk verlede jaar na Namibië terugkeer.
Rall is ook geen vreemdeling op die FNB Windhoek Woordfees se verhoog nie nadat hy as begeleidende pianis vir Amanda Strydom in The Incredible Journey of Tinkerbell van Tonder verskyn het. Die legendariese aktrise, Elzabé Zietsman, het ook in die regisseurstoel vir Hoort ingeskuif.
Die stuk het verlede jaar ’n gesogte woordtrofee vir uitsonderlike bydrae tot kontemporêre musiek: klein groepe by die Toyota Stellenbosch Woordfees ingepalm.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie