Herinneringe aan die doodsakker
NIE VIR SENSITIEWE LESERS
lemand hoog op het besluit ’n hinderlaag vanaand is ’n goeie idee vir die 106’ers, waarvan ek nou lid is.
Ons is omtrent 20, insluitend ’n sersant Koekemoer en ’n luitenant Lister. Dié sers. Koekemoer is die instrukteur van die 106’ers en die broer van my sers. Koekemoer. Hy is langer en slanker as sy broer, maar hulle deel dieselfde onaangename houding.
Terwyl ons “black is beautiful” aansmeer en toerusting nagaan, gee die luitenant opdragte. Tot sononder, wanneer ons die hinderlaag opstel, stap ons ’n paar kilometer in ’n patrollieformasie. Die luitenant stel twee Claymore-myne en sers. Koekemoer wys vir elkeen waar om sy vuur te rig. My posisie, saam met drie ander, is as rugsteun agter die ouens wat die doodsakker dek.
Dis my eerste werklike ervaring in die operasionele gebied en ek weet nie wat om te verwag nie. Ek bestudeer die plantegroei voor my in die doodsakker en probeer om elke man se posisie te onthou. Ná ’n rukkie besef ek ek oordink alles dalk te veel en gaan lê.
In die nag beweeg iemand aan die ander kant van my linie en praat in sy slaap.
Sers. Koekemoer, in die doodsakker, staan op en stap in die rigting van die geluide. Ek kyk hoe hy langs die linie beweeg. . . en toe klap twee skote.
Koekemoer val met ’n kreun en hou sy bobeen vas. Nog iemand beweeg na hom toe. Nóg twee skote klap en dáárdie persoon val.
Die skote kom nie uit die doodsakker nie en dit laat ’n paar ouens opstaan. Die skote hou aan klap. Tap, tap. Dit kom uit my linie.
Ek hoor kreune van pyn. My begrip van tyd vries, maar ek skat die skietery hou omtrent 30 sekondes aan. Behalwe vir die gekreun en ’n gehyg van pyn is alles stil.
Party manne begin baie versigtig leopard crawl na die ouens wat geskiet is. Die luitenant skree: “Staak vuur, staak vuur!” en roep die medic.
Ons staan op en beweeg vorentoe. Kordiet en stof vul die lug; my sintuie is oorlaai. In die maanlig sien ek ’n verskriklike toneel: Liggame lê naby mekaar, sommige beweeg. ander nie. Sommige kreun verskriklik.
Op die agtergrond hoor ek hoe die luitenant oor die radio om hulp roep. Ek laat val my geweer, trek die bomverband uit my sak en beweeg na die naaste liggaam.
Hel, wat moet ek doen? Sy hele bolyf is bebloed. Ek leun oor sy gesig en skud sy kop met albei hande. Niks, geen reaksie. Maak sy webbing los, maak sy hemp oop, skree my gedagtes.
Toe sien ek die bloed wat uit sy buik pomp. Hy haal swaar asem. Ek druk die verband op die wond en oefen druk uit, draai om en skree om hulp.
Dit lyk asof daar meer gewonde en dooies is as mense wat help. Een ou hou sy kop met albei hande vas en sê oor en oor. “Ek is jammer, ek is jammer, ek is jammer.”
Max kom help my en sê sers. Koekemoer leef. Tyd staan stil terwyl ek en Max ons bes doen om die bloeding te stop, maar die arme ou sterf. Hy gee geen uiterlike teken van die oorgang van lewe na dood nie, sy moeilike asemhaling hou net op. Ek weet nie eens wat sy naam is nie.
Ons beweeg na nog ’n liggaam. Niemand neem beheer nie, maar daar is niks om te beheer nie. Almal, behalwe die een wat jammer sê, probeer help en sukkel om die bloeding te stop.
Die medic gee van die gewondes morfieninspuitings, maar dit raak gou op. Dit voel asof dit stil is, maar dit is nie. Ons praat nie, ons skree op mekaar. En die gewondes kreun van pyn en skok.
Ons hoor voertuie in die verte en die luitenant brul rigtingaanwysings oor die radio. Twee Unimogs arriveer met meer medics en troepe.
Ons help die medics met meer verbande en hou drups vas. Adrenalien pomp seker deur my lyf, want bloed en ander se pyn maak my gewoonlik naar. Maar vanaand hanteer ek dit.
Morfien het dalk die pyn gedemp, maar die diep borrelende kreune hou aan. Die wonde is verskriklik. Oop frakture, ’n arm wat weg is. Gapende gate in bolywe en ingewande wat wys.
Die ding wat my egter die meeste ontstel, is een man se gesigwond. Sy kop is ’n bebloede gemors. ’n Koeël het hom in die gesig getref en die helfte van sy kakebeen weggeskiet. Beensplinters wat uitsteek lyk soos stukkies ivoor, gedoop in bloed. Sy linkeroog is weg. Die uitgangswond aan die agterkant van sy nek is ’n geskeurde krater. Daardie beeld brand in my gedagtes vas.
Die kommandant, wat by sy aankoms beheer oorneem, gee bevele oor die radio oor die uitvlieg van die gewondes. Die thumpa-thumpa-thumpa van twee helikopters bring twee dokters en operasionele medici.
Uit die 20 in die hinderlaag is vier dood en sewe gewond. Sers. Koekemoer is nou een van die oorledenes. Om vir die eerste keer dooie mense te sien en hulle in lyksakke te sit, wil my laat opgooi.
Die mediese spanne bied hulp en vertrek dan met die dooies en gewondes in helikopters.
Max bied vir my ’n sigaret aan, wat ek met dank aanvaar. Ek vra: “Wat de hel het vanaand gebeur? Wie het geskiet?”
“Dit was Doppies, die ou wat heeltyd jammer sê. Ek het hom van my posisie af dopgehou. Hy het hulle almal geskiet. Jesus, ek kan dit nie glo nie. . .”
“F*k, ken jy hom?”
“Ja, sedert Januarie.”
“F*k, f*k. f*k. Max. Hoekom? Dis die grootste gemors wat ek ooit kon voorstel, om onsself dood te maak.”
Ons sit saam, kruisbeen in die sand, en rook die een sigaret na die ander. Ek het nog nooit gesien hoe mense geskiet word of sterf nie, behalwe in flieks – om nie eens te praat van vanaand se verskriklike beserings nie. Ek het ook nog nooit iemand se hand vasgehou terwyl hy sterf nie.
Nadat ons die area skoongemaak het en terug is in die basis, sit almal saam met die bevelvoerder, die tweede in bevel en die RSM.
Doppies, nou in totale skok en nie in staat om te praat nie, vertrek saam met ’n medic. Ons gee elkeen ons weergawe. Dit word duidelik dat Doppies op die een of ander manier omgedraai het in sy slaap en ’n geluid begin maak het. Hy het wakker geword toe sers. Koekemoer na hom toe kom, hom twee keer geskiet en toe op elke beweging geskiet. Hy het net een magasyn gebruik.
’n Bloedrooi son kom op terwyl die ondervragingsessie eindig. In die eetsaal heers ’n somber stemming, maar nuuskierige ouens vra ons uit. Ek voel ellendig en is nie lus om die gru-gebeure te herleef nie.
Uitgeput en moedeloos stort ek en skrop my bloedbevlekte browns. Ek probeer slaap, maar dis te warm. Terwyl ek na die tentdak staar, hoor ek die stemme van die dooie mans se ouers wat vra: “Hoe het my seun gesterf?”
Dogtag Memories – The Misadventures of an SADF Conscript deur Jon Goetzsche word deur Penguin Random House uitgegee.
* Die skrywer is in Harare in Zimbabwe gebore en gebruik nie die betrokkenes se regte name nie.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie