‘Groot roman’ vaartbelyn, vars

’n Lekker dik feministiese streep
’n Mens kan raai waarom Van man tot man nie in Olive Schreiner se leeftyd gepubliseer is nie, hoewel sy lank daaraan gewerk het.
Deborah Steinmair

Deborah Steinmair

Van man tot man het ’n stamboom wat ’n leser se kop laat duisel – geskryf deur Olive Schreiner, verkort, versorg en van ’n slothoofstuk voorsien deur ’n Nobelpryswenner, J.M. Coetzee, en vertaal deur ’n Hertzogpryswenner, Antjie Krog vertaal. Dit stel nie teleur nie.

’n Mens kan raai waarom dit nie in Schreiner se leeftyd gepubliseer is nie, hoewel sy lank daaraan gewerk en dit as haar groot roman beskou het.

Ek vermoed dit was te swaar aan idees en ’n sekere Schreiner-prekerigheid. Coetzee het dit sagkens in die bek geruk en bymekaargetrek. En aan die feesmaal van Krog se taal kan lesers altyd smul.

Schreiner was min of meer ’n tydgenoot van die Britse skrywer Thomas Hardy en hierdie roman toon ooreenkomste met Tess of the D'Urbervilles, al is dit net die moraliserende en vrouevyandige tydsgees. Daar is geglo dat ’n man vele indiskresies vergewe kan word, maar as ’n vrou eenmaal haar reputasie verloor het, kan dit nooit herstel word nie.

Dis interessant om te lees hoe Engelssprekende Suid-Afrikaners in die middel-1800’s aan die Kaap en in die Karoo geleef het – swierig en koloniaal. Die taal is egter so lewendig dat ’n mens hulle amper aansien vir Afrikaners.

Schreiner het ’n fyn oor en geheue vir die stem van die kinderverteller. Aan die begin van die roman skenk die vyfjarige Rebekah se ma die lewe aan tweelingdogtertjies. Een is doodgebore en Rebekah kom op haar liggaampie in die spaarkamer af. Sy wonder waarom die baba nie wakker word nie en versier haar. 

Op haar kussing sit sy ’n silwer vingerhoed en pakkie naalde neer, asook ’n Boesmanklip en die gesig van koningin Victoria, uitgesny uit die omhulsel van ’n sardientjieblik. Onder die baba se gebuigde armpie sit sy ’n alfabetboek, in die baba se geslote vuisie sit sy blink sjokoladepapier.

Van die oorlewende babasussie, Bertie, wil sy aanvanklik niks weet nie. Die arme, beeldskone Bertie voel lewenslank ’n gemis aan en bly kinderlik en goedgelowig.

Miskien is dit waarom sy haar kosbare maagdelikheid aan die skoolmeester afstaan, waarna hy haastig terug Engeland toe is. Sy was nog ’n kind. Ongelukkig voel sy genoop om die man wat haar later aanbid en met haar wil trou, daarvan te vertel.

John-Ferdinand, wat ook haar neef is, se belangstelling in haar taan onmiddellik. In die Victoriaanse era is ’n gevalle vrou ’n verleentheid wat vermy moet word. John-Ferdinand word dadelik ingekatrol deur ’n Britse meisie wat by die gesin loseer. Hulle trou en hy neem haar in sy vertroue oor Bertie, of eerder, sy trek die inligting uit hom.

Bertie, met haar reputasie, gaan woon by Rebekah in die Kaap. Rebekah is intussen getroud met hul neef Frank, John-Ferdinand se broer.

Frank het met mag en mening na Rebekah gevry, en sy het haar lank afsydig gehou, omdat sy gedink het sy sal hom nie so vurig kan liefhê soos hy haar liefhet nie.

Helaas kry sy hom ná die troue hartstogtelik lief terwyl sy belangstelling afneem nadat sy die een kind ná die ander baar: Hy is ’n suksesvolle sakeman wat kom en gaan soos hy wil en verhoudings met ander vroue aanknoop. Rebekah vergewe maar telkens.

Schreiner had ’n lekker dik feministiese streep. Die vroue is besonder: Rebekah leergierig met ’n wye belangstelling, kunstig en vlytig; Bertie minder van ’n boekwurm, maar met ’n lieflike geaardheid en hande wat vir niks verkeerd staan nie.

Die mans is preuts wanneer dit kom by hul vroue maar permissief in hul eie handel en wandel. Hulle benodig vryheid, afleiding en geselskap. Die vroue sloof hulle af met kinders en huishouding.

Dis hier waar ek vermoed Coetzee nogal gesnoei het, aan Rebekah se teorieë en idees oor gender- en rassegelykheid. Sy skryf lang briewe aan haar ontroue man, briewe wat hy hom nie eens verwerdig om te lees nie.

Haar idees is progressief, soos: “Vanaand is dit die einde, ons moet eindelik openlik en eerlik met mekaar praat. Ek is nie meer bang vir jou nie. Ek is nie meer ’n vrou wat praat met die een wat haar besit nie, voor wie sy bewe nie. Ons is twee vrye siele, van aangesig tot aangesig teenoor mekaar. As jy nie die brief wil lees nie, sal jy my hoor praat. Maar ons lang lewe van stilswye en onderdrukking en bedrog eindig hier.”

Oor rassisme sê sy vir haar seuns: “Julle sal mense hoor praat van Minderwaardige Rasse, my kinders, en hoe ons hulle meerdere is. Maar ek weet wel dat, as jy alles van my afstroop wat ek van ander rasse geleer het, bly net ’n klein oermoedertjie oor wat haar baba in diervelle abba en by die grot uitloer om te sien of haar man met sy vuurklippyle huis toe kom om te eet.”

Wat tref, is Schreiner se gevoeligheid vir die dinamika tussen mense, haar siniese insig in die menslike natuur. Die roman lees soos ’n sielkundige riller nadat Coetzee ’n bietjie die seepkissie onder haar uitgeskop het.

Bertie is die karakter na wie die titel verwys – sy word van man tot man aangegee, omdat sy beskadigde goedere en waardeloos is. Waar sy ook al gaan, het haar reputasie haar reeds vooruitgeloop, te wyte aan haar neef se vrou. Daar kan vir haar geen voorstedelike of plaaslewe met eggenoot, kinders en bediendes wees nie. Sy is gemerk, soos Hardy se Tess.

Coetzee het aanhalings uit Schreiner se briewe gebruik en beledigende terme wat destyds aanvaarbaar was, versag. En gesny, want te veel idees, vertel hy in sy nawoord “veroorsaak ongemak in fiksie”.

Oor Krog se vertaling kan ek die hoogste moontlike lof uitspreek: Dit voel asof die boek oorspronklik in Afrikaans geskryf is. Sy vind telkens lieflike woorde wat pas in die milieu en tydsgees maar klinkend en vars is.

Hierdie roman is klassiek, geskryf in ’n era toe outeurs met die hand elke gedagte wat by hulle opgekom het, neergepen het. In die vaardige, geïnspireerde hande van Coetzee en Krog word dit vaartbelyn, tydloos en vars. Dis ’n leeservaring wat ek nie sou wou misloop nie. – Rapport

Kommentaar

Republikein 2026-11-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer