Gift en Tweyapewa skep in Duitsland

Inwonende kunstenaars in Baden-Württemberg
Die Akademie Schloss Solitude se uiteenlopende beursprogram bevorder die kruising van kuns en wetenskap oor alle dissiplines en praktykvelde heen.
Henriette Lamprecht

Die plaaslike kunstenaars Gift Uzera en Tweyapewa Ndapandula het Namibië vir ‘n wyle vir Duitsland verruil, met hul verblyf van ses maande by Akademie Schloss Solitude as deel van die Namibië Fellowship wat amptelik afgeskop het.

Die Namibië Fellowship wat gereël word deur die Nasionale Kunsgalery van Namibië, Goethe-Institut Namibia en Akademie Schloss Solitude, versterk die artistieke uitruiling tussen Namibië en Baden Württemberg.

Gift is Uzera is 'n Namibiese en interdissiplinêre kunstenaar wie se werk beweging, stem, argiefnavorsing en ruimtelike installasie verweef om queerness en kulturele geheue te verken. As kunstenaar beweeg hy tussen die verhoog, film en uitstallings waar hy sy liggaam en tradisies van klank gebruik om stories te vertel. 

Sy portefeulje sluit projekte in soos Rhythm Reborn by HELLERAU – Europese Sentrum vir die Kunste Dresden/Duitsland (2024–2025); Resonant Bodies: In Motion, In Sound by die Goethe-Institut Namibia (2025), Land by die Nasionale Teater van Namibië (2025), en Unwritten Archives – Reconstructing the Past by Schwere Reiter in München/Duitsland (2023).

Gift het ook bygedra tot die uitstalling Entangled by Rhodes House, Universiteit van Oxford (2024–2025) en was ‘n genoot by Theatertreffen International Forum (2025) en kunstenaar-in-residensie by die Akademie für Theater und Digitalität in Dortmund/Duitsland. Sy werk op die groot skerm sluit in Hand-Holder en Der Vermessene Mensch (2023).

Gift het as ‘n uitvoerende kunstenaar bekend geword aan 'n wyer gehoor deur rolle in die Namibiese rolprent "Katutura" (2015) en die teaterproduksie "Hereroland" (2020 en 2023) te vertolk. 

Tweyapewa Ndapandula is ‘n visuele kunstenaar wie se werk gegrond is in die vertel van stories, kulturele geheue en die ontdekking van verskeie materiale. Hy het groot geword in ‘n landelike nedersetting naby die Onghulumbashe-erfenisterrein in die noorde van Namibië en het sy passie vir die kreatiewe reeds op ‘n jong ouderdom ontdek.

Ten spyte van fisiese uitdagings het Tweyapewa sy kreatiwiteit uitgeleef in beelde geskep uit draad en die modellering van klei. Die klei en draad sou ook die basis vorm van sy toekomstige skeppings.

Tweyapewa se formele onderrig in kuns was by die Kollege vir die Kunste (Cota) waar hy ‘n diploma in visuele kuns en kunsvlyt in 2018 verwerf.

Onder die aanmoediging van die bekende kunstenaar en sy mentor Actofel Iilovu, ontwikkel Tweyapewa sy vaardighede verder en verdiep hy sy konseptuele benadering tot die skep van sy kuns. In 2024 behaal hy sy honneursgraad in visuele kunste aan die Universiteit van Namibië (Unam).

Sedert 2015 neem Tweyapewa aan verskeie uitstallings, werkwinkels en ook projekte saam met ander kunstenaars oraloor Namibië deel.

Met die gebruik van keramiek, beeldhouwerk en gemengde media herverbeel Tweyapewa die stories van sy voorvaders, terwyl hy steeds oorkruis-dialoog, onderrig en bemagtiging deur middel van sy werke koester.



Kommentaar

Republikein 2026-03-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer