Photo Caption
Photo Caption

Gesprekke met Michael

Henriette Lamprecht

’n Oorspronklike Namibiese toneelstuk en multimediaproduksie wat op die verhouding tussen ’n nie-verbale outistiese tiener en sy tutor fokus, maak volgende week sy buiging op die Nasionale Teater van Namibië (NTN) se planke.

Conversations with Michael, die breinkind van die bekroonde Sandy Rudd wat ook vir die regie verantwoordelik is, is geskryf deur Roya Diehl. 

Die toneelstuk is gebaseer op die ware verhaal van Michael en Veronica Muinjo, wat sy kommunikasie reguleer. Dit vervat Michael se eie woorde soos dit uitgespel is op ’n letterbord tydens sessies met die stuk se kreatiewe span, saam met dialoog wat vir die verhoog geskryf is. 

Lize Ehlers wat al met agt Namibiese musiektoekennings (Nama’s) bekroon is, is verantwoordelik vir die musikale regie. Ehlers het saam met die musiekvervaardiger David Beukes ’n oorspronklike klankbaan geskep wat saam met die geprojekteerde visuele beelde van Stephen Beukes die innerlike wêreld van Michael en sy tutor weerspieël. 

Die stuk begin met die tutor met ’n letterbord en die hoop dat dit sy outistiese leerling kan help kommunikeer, by Michael opdaag. Hy het sy opleiding in “Spelling to Communicate” voltooi, maar die praktiese toepassing daarvan laat hom aan homself twyfel. Wat as dit nie werk nie?

Namate Michael vaardig raak met die letterbord en sy gedagtes en gevoelens begin deel, maak die tutor se twyfel plek vir toenemende selfvertroue. Die gehoor vind uit van Michael se eensaamheid en sy verlange na vriendskap en groter onafhanklikheid. Deur oomblikke van vreugde en frustrasie ontwikkel Michael en die tutor ’n hegte band wat gekenmerk word deur omgee en respek.

Benewens die verhaal, verken die toneelstuk die debat rondom “Spelling to Communicate”. Dit ondersoek vrae oor outeurskap en die moontlike invloed van ’n kommunikasievennoot, sowel as die hoop wat praktisyns en gesinne in die metode stel.

’n Gratis kleedrepetisie en teatergesprek vind om Woensdag 28 Oktober om 18:00 by die NTN met die toneelgeselskap onder leiding van Adriano Visagie plaas.

Optredes vind plaas op Donderdag en Vrydag om 18:00 met vooruitbespreekte kaartjies wat N$150 by Webtickets kos en N$200 by die deure. 

Conversations with Michael sal ook by die sesde Wêreld Outismekongres opgevoer word wat van 3 tot 5 November vir die eerste keer in Namibië en Windhoek plaasvind. 

Vir navrae kan Sandy Rudd by 081 124 0541 of [email protected] gekontak word. 

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-10-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer