Geskiedenis is met die hand geskryf
Een van die belangrikste literêre samekomste in Afrika. Só beskryf die gevierde The New York Times die Doek! Literêre Fees, ’n samekoms van lesers, skrywers en liefhebbers van storievertelling, wat vanjaar weer haar buiging van 30 September tot 3 Oktober in Windhoek maak.
Met van gesprekke, poësielesings, kreatiewe skryf- en kunsvlytwerkwinkels, tot ’n kunsuitstalling en musiekopvoerings, poog die Doek! Literêre Fees om die klassieke maniere van skryf en die vertel en deel van stories te laat herleef.
Die gevoel wanneer ’n pen (of potlood) moeiteloos oor papier beweeg en woorde skep; die afwagting vir ’n nuwe boek om sy verskyning te maak en die vreugde om ’n ou, dalk verslete, weergawe in ’n tweedehandse winkel te ontdek en iewers in ’n stil hoekie te sit en lees.
Om om ’n vuur te sit en na liedjies of toeka se stories en onthou’s te luister, ’n lank verlore plaat te ontdek waarvan die klanke en melodieë jou terugneem na ’n tyd en plek wat iewers in jou onderbewussyn gebêre is.
Vanjaar se fees nooi feesgangers uit om hulle in die woorde, klanke en beelde te verdiep wat deur ander geskep is in tye en wêrelde ver van vandag.
Spesiale klem word geplaas op die mensgemaakte pogings en die vele hande wat die literêre gemeenskap en uitgewersbedryf aan die lewe hou.
Deur op mense en mensgemaakte werke – hetsy boeke, kunswerke of musiek – te fokus, word die belangrikheid van die individu in ’n toenemend digitale en afgesonderde wêreld beklemtoon.
Die Doek! Literêre Fees vra wat lê verder as droom en die verbeelding, wat doen ’n mens nadat jy klaar gelees of geskryf het en watter betekenisvolle aksie kan geneem word wanneer die laaste blad gelees of die laaste woord met ’n punt geëindig is?
Van die skrywers wat aan die fees deelneem, sluit Nana Kwame Adjei-Brenya, Bongani Kona, Laura Nkula-Wenz en Frankie Murrey in.
Die beeldende kunstenaars is Katherine Hunter en Amine Serhane, terwyl digters onder meer Justin Boening, Hugh Ellis-Mwiya, Nathalie Handal, Jeremy Toboth en Devon Walker-Figueroa insluit. DJ Musketeer en Brother Mbango is van die musikante en die fotograaf is Justin Boening.
Toegang tot die fees wat by die Goethe-Institut in die hoofstad aangebied word, is gratis. – [email protected]


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie