Organiseerders su00EA die Soulection-musiekfees is deur Stad Windhoek goedgekeur. FOTO Soulection
Organiseerders su00EA die Soulection-musiekfees is deur Stad Windhoek goedgekeur. FOTO Soulection

Geraas grief

Desmarius Hansen

Inwoners van Pionierspark het oorlog verklaar teen wat hulle as toenemende geraasbesoedeling in hul rustige woonbuurt beskryf. 

Hulle eis dat Stad Windhoek (CoW) onmiddellik ophou om permitte uit te reik vir musiekfeeste en ander kommersiële vermaakgeleenthede by venues wat langs huise bedryf word. 

In ’n amptelike brief wat in Republikein gepubliseer en op 29 Augustus by CoW ingedien is, het bekommerde inwoners sportklubs en kommersiële eiendomme daarvan beskuldig dat hulle die woonbuurt toenemend in vermaaksentrums omskep, met luidrugtige musiek, openbare aankondigings en klanktoetse wat glo van vroegoggend tot laat in die nag aanhou. 

Die inwoners het die Soulection-musiekfees wat op 29 Augustus plaasgevind het as die jongste raserige fees uitgewys en beweer dat klanktoetse en uitsendings voor 09:00 begin het en tot middernag voortgeduur het. 

Hulle voer aan dat die rusverstoring nie meer geïsoleerde gevalle van ongerief is nie, maar gesinne, kinders, bejaarde inwoners en skole in die gebied raak. 

“Pionierspark is ’n woonbuurt met gesinne, jong kinders en bejaardes, waar hierdie geraasbesoedeling meer as net ’n oorlas is,” lui die brief. 

Die inwoners vra vir ’n “onmiddellike verbod op musiekfeeste en kommersiële geleenthede waar harde musiek die hooftrekpleister is” by sport- en kommersiële venues in woongebiede. 

Verder wil hulle hê dat vermaaklisensies en permitte vir klankuitsendings by venues naby woonhuise tydelik op ys geplaas word, terwyl hulle proaktiewe monitering deur die Windhoekse stadspolisie eis. 

Die klagskrif vra ook vir streng afdwinging van klankgrense en dring daarop aan dat aankondigingstelsels wat vir sport of agtergrondklank gebruik word, nie buite die eiendomsgrense van die venue hoorbaar moet wees nie. 

Inwoners beweer die steurings oorskry wat hulle sê die munisipale geraaslimiete is en verwys na vlakke van meer as 70 desibel tydens sommige geleenthede. 

Hulle voer verder aan dat oormatige geraas hul lewensgehalte beïnvloed, gesinsroetines ontwrig en moontlik eiendomswaardes en die leeromgewing by nabygeleë skole ondermyn. Die klagskrif verwys na CoW se geraasbeheerregulasies, die wet op omgewingsbestuur en soneringsbepalings as grondslag vir hul eise. 

Die inwoners vra egter nie vir ’n einde aan sportaktiwiteite of gewone sakebedrywighede nie. In plaas daarvan wil hulle hê CoW moet ’n duidelike onderskeid tref tussen wettige sport- en kommersiële aktiwiteite en grootskaalse vermaakgeleenthede wat, volgens hulle, onversoenbaar is met ’n woonbuurt. 

Hulle het CoW se eenheid vir omgewingsbestuur en die bevelvoerder van die Windhoekse stadspolisie aangespoor om dringende administratiewe en afdwingingsoptrede te neem. 

Die klagskrif word ook in die openbaar versprei, met inwoners wat ’n beroep op lede van die gemeenskap doen om hul veldtog te ondersteun vir strenger beheer oor harde musiek en die bedryfsure van geleenthede in woongebiede.

Die organiseerder van die Soulection-musiekfees, Anthony Coetzee, het aan Republikein gesê hulle het alles gedoen wat van hul kant vereis is voordat hulle die fees aangebied het. 

“Ons wil nie kommentaar lewer op die kwessies nie, want ons het ons deel gedoen. Ons het met die omliggende inwoners gepraat, met Stad Windhoek geskakel en daar is selfs ’n goedkeuringsbrief aan ons uitgereik,” het hy gesê. 

CoW het nie op vrae van Republikein gereageer nie. 

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-09-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer