‘Barakat’ is Suid-Afrika se eerste Moslem-rolprent in Afrikaans en is vir vanjaar se Oscars ingeskryf. Foto Netwerk24
‘Barakat’ is Suid-Afrika se eerste Moslem-rolprent in Afrikaans en is vir vanjaar se Oscars ingeskryf. Foto Netwerk24

fliekNET terug as opwipkanaal in feestyd

Yandi Du Plessis
Die somervakansie is om die draai en DStv se Afrikaanse opwipkanaal fliekNET keer in Desember terug vir die feestyd en bied ’n kombinasie van kontemporêre en klassieke rolprente.

fliekNET word van 16 Desember tot 15 Januarie 2023 op DStv-kanaal 149 aangebied.

Van die rolprente wat te sien gaan wees, sluit onlangse treffers in soos Barakat, Toorbos, Kaalgat Karel, Klein Karoo asook Klein Karoo II.

Ook op die skedule is gewilde uurlange flieks soos Magda Louw, Die lang langnaweek en Dija wil ’n baby hê met groot name soos Hannes van Wyk, Quanita Adams, Jacques Bessenger en Amalia Uys in die onderskeie rolverdelings.

Die klassieke aanbod sluit in rolprente soos Tant Ralie se losieshuis, Lokval in Venesië, Lord Oom Piet en die kultus- klassieke fliek Boetie gaan border toe, met die Hollywood-ster Arnold Vosloo.

Die program sluit ook kortrolprente van die Silwerskermfees in. Dokumentêre reekse soos Impressario, Oppi Kassie en Daar doer in die fliek sal veral fliekvlooie prikkel wat belang stel in die geskiedenis van die vermaaklikheidsbedryf in Suid-Afrika.

fliekNET is beskikbaar vir Premium-intekenare.

Die kanaal saai daagliks van 06:00 tot middernag programme uit.

Vir die volledige skedule, besoek https://www.dstv.co.za/guide/.

Bron: Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2022-12-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer