Erentia se wonderlike wêreld
Die bekroonde animasiekunstenaar en kortfilmregisseur, Namibies-gebore Erentia Bedeker, keer terug na haar hartland met ’n spesiale vertoning van drie van haar films wat die towerkrag van handgemaakte stop-raam-animasie vier.
Erentia se films is almal 100% handgemaak en sy gebruik minimale rekenaartegnologie. Dit wat jy op die skerm sien, is alles met die hand gemaak en raam vir raam afgeneem en aanmekaargesit – 24 rame (of dan foto’s) per sekonde.
Ruby & Roach was haar eerste groot projek, is by 77 filmfeeste wêreldwyd vertoon en is met 18 pryse bekroon. Haar jongste film The Stonemason het meer as sewe jaar geneem om te voltooi en is die eerste poppe-animasiefilm waarvoor Erentia self al die poppe uit hout gekerf en gemaak het. Die finale film bestaan uit 21 550 foto’s, skaars die helfte van die duisende wat sy geneem het.
Die derde film vir die spesiale vertoning in Windhoek is ’n verrassing, sê Erentia.
“Dit is eintlik ’n film wat ek self nooit in sy geheel gesien het nie en wat nie 100% klaar is nie, maar wat vir my persoonlik baie spesiaal is en wat ek vir die eerste keer met ’n gehoor sal deel,” vertel sy opgewonde.
Vir elke film gaan Erentia so bietjie gesels oor die maak van elkeen, watter prosesse gebruik is en presies hoe dit werk.
“Met stop-raam-animasie is die agter-die-skerms soms amper interessanter as die finale film!”
Die spesiale vertoning van Erentia se films vind op Saterdag 31 Oktober om 11:00 by Fowler House (10 & 12 Newtonstraat) in Windhoek plaas. Toegang is gratis.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie