Droogte en bosdoring

‘Kreef en Kaiings’
Hester Steenkamp van Hakieshart-faam en voormalige rubriekskrywer van Republikein wat lesers oorrompel het met haar dikwels rou ervaring van die lewe op ’n plaas in die kloue van die droogte in die suide van die land, maar ook haar fyn waarnemersoog waarmee sy ook na die soet van die lewe kyk, se boek Kreef en Kaiings is hier!
Susan Alexander

Hester se pad met die liefde van haar lewe het só begin: “Ek het gesê dat ek graag met hom sou wou trou, baie graag, maar net as hy my kon verseker dat ek nie op ’n Suideplaas gaan opeindig nie.”

Julle weet wat die Engelse sê oor beroemde laaste woorde!

Die Steenkamp-gesin trek einde 2006 na ’n plaas in die suide van Namibië. En toe begin die innige verhouding met hierdie harde streek. Dit is ’n liefdesverhouding, maar dit is ook dikwels ’n wanhoopsverhouding wanneer die reën wegbly en die planne-maak wil-wil opraak.

Te midde van veg om oorlewing en kinders grootmaak, lammers bottelvoed en mekaar moed inpraat, begin Hester skryf oor die dinge wat sy daagliks sien en doen. Ten spyte van moeilike tye, is haar boek nie ’n neerdrukkende boek nie. Daar is soveel lag saam met die huil; hoop saam met die afhanklikheid van genadewater.

In die titelverhaal van hierdie versameling vertellinge, pak die spreker haar dogter se yskas en vrieskas reg en daar bly twee pakkies oor: “Een was ’n sakkie met twee kreefsterte en die ander een ’n sakkie kaiings… Bederfkos en trooskos. En ons het mos bietjie van al twee nodig. Sommige dae is kreefdae, en ander is weer kaiingdae.”

Sy vertel hoe mens sommige dae alles uithaal om ’n spesiale geleentheid te skep met jou kreefsterte geverf met regte botter en pietersielie; “yskoue Sauvignon Blanc in blink langsteelglase en jy geniet dit met Maria Callas wat sag in die agtergrond sing”.

“Ander dae staan jy verlore met ’n handvol kaiings in jou kombuis en verlang. ’n Paar kaiings in jou handpalm wat jou terugvat huis toe. Al die pad terug tot op die grondpad, verby die kokerboomwoud, oor Vaalgras se bruggie tot by jou grootwordhuis.”

Op Dinsdag 31 Maart 2026 om 18:30 voer Susan Alexander ’n gesprek met Hester Steenkamp oor haar lewe, haar skryfwerk, die passies wat haar dryf. 

Ons sal hoor van die literêre toekennings wat sy oor die jare al by die ATKV ontvang het; onder meer die Herman van Wyk Prosaprys vir Kreef en Kaiings.

Hierdie geleentheid word gesamentlik deur Krit (die literêre gespreksgroep) en die FNB Windhoek Woordfees aangebied. 

Indien enigiemand hierdie geleentheid wil bywoon, kan hy of sy per WhatsApp aanmeld by Susan Alexander by 081 272 0459 of by Elizma Theron by 081 122 4110.

Die geleentheid word in die NG kerksaal van Windhoek-Oos aangebied. Die toegangsfooi by die deur is N$50. Daar word nie vooraf kaartjies verkoop nie.

Daar is ook ’n happie en glas wyn ingesluit. Gaste wat die geleentheid bywoon, kan ’n kopie van Hester se boek teen die baie spesiale prys van N$200 koop (slegs kontant). 

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-05-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer