Donker humor komplimenteer komedie
Ek kan nie onthou wanneer laas ek só opgewonde gevoel het nadat ek ’n fliek in die teater gekyk het nie.
Ready or Not 2: Here I Come het sy voorganger beslis oortref in terme van hoe groot dit is. Die fliek skram nie daarvan weg om vreemd te wees nie en dit neem homself beslis nie té ernstig op nie. Die storie is absurd en so ook die hele idee agter hierdie reeks en ek is net bly ek kan hier wees en dit ervaar.
Ek kan met groot tevredenheid sê dat ek die bioskoop met ’n glimlag op my gesig verlaat het. Die fliek se donker humor is presies in my kraal en ek het van begin tot einde gelag en geglimlag. Dit was 108 minute van pure aksie, komedie en ’n paar gruwel-oomblikke.
Ready or Not 2: Here I Come speel direk af na die einde van die eerste fliek en spring dan ’n paar dae vorentoe. Die fliek gaan voort met Grace se storie, maar hierdie keer moet sy vlug van die wêreld se invloedrykste mense wat haar jag. Grace word deur haar suster Faith ondersteun, wat ongelukkig nie besef waarin sy haarself begewe het nie.
Samara Weaving is gereed om weer te skop en te skiet as Grace MacCaulley en sy weier om moed op te gee terwyl sy tot die einde toe baklei. Sy word vergesel deur Kathryn Newton wat haar suster Faith speel, en eerlikwaar, sy is ’n fantastiese toevoeging tot die fliek. Elijah Wood speel die prokureur wat basies die jagtog bestuur.
Sarah Michelle Gellar en Shawn Hatosy speel die Danforth-tweeling, wat basies die skurke is. Hul pa word deur die legendariese David Cronenberg vertolk. Die res van die ondersteunende rolverdeling sluit in Kevin Durand, Olivia Cheng, Varun Saranga en Néstor Carbonell.
Ek wil nie die fliek bederf nie, maar die fliek se omgewing dra baie tot die storie en die jagtog by. Die hele fliek voel asof dit op werklike plekke geskiet is en dit laat alles selfs groter voel. Daar is soveel ongelooflike tonele in hierdie fliek, want dit is regtig aksiebelaaid – van begin tot einde.
Ek weet nie wie besluit het watter liedjies om in hierdie fliek te gebruik nie, maar dit pas perfek by die tonele. Total Eclipse of the Heart deur Bonnie Tyler speel in een toneel en dit verhef dit heeltemal. Die musiek pas by die chaos van die fliek en die klankbaan deur Sven Faulconer is eenvoudig perfek.
Ek waardeer al die risiko’s wat hierdie fliek neem, veral wat aksie en kinematografie betref.
Daar is tye wanneer dit voel asof jy in Grace of Faith se skoene is en ander kere neem die wye skote jou reg in die wêreld van die film in. Regisseurs Matt Bettinelli-Olpin en Tyler Gillett bewys weer eens dat ’n eenvoudige uitgangspunt ’n wonderlike storie en sterk wêreld kan skep.
Ek is mal oor hierdie fliek en ek wil hê almal moet dit gaan kyk. Dit is dalk nie vir mense met senuweeprobleme nie, maar dit is beslis ’n fliek wat die moeite werd is om te kyk.
Dis hoekom ek dit 4 uit 5 sterre gee.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie