Dis Evita, Darling!
Sy is skaamteloos uitgesproke, diep patrioties en lewer met vlymskerp humor kommentaar op die politieke landskap en die samelewing se dikwels verwronge norme – in ’n neutedop sê Evita Bezuidenhout dit wat jy nie sal waag om te uiter nie, maar dwing jou daarmee tot nadenke en om te bevraagteken.
Satiries, uitlokkend, radikaal en snaaks het tannie Evita ’n holte vir haar voet op Darling in die Wes-Kaap gevind waar ’n vervalle treinstasie met kitsch en quirky en van geel plastiekeendjies op ’n visdam tot beelde van Suid-Afrikaanse ikone soos wyle Desmond Tutu in die Boerassic Park jou ’n eerstehandse blik gee op die Suid-Afrika van toe en nou. By Evita se Perron kan jy koekies en beskuit proe en laatmiddag in die intieme teater op onpas antieke stoele inskuif vir die voorreg van die einste tannie Evita en haar skerp tong op die verhoog en later naderstaan vir ’n selfie met haar alterego en skepper, die 81-jarige Pieter-Dirk Uys.
In sy boek A Part Hate, A Part Love: The Legend of Evita Bezuidenhout, skryf Uys tannie Evita is buite die eg gebore as Evangelie Poggenpoel in 1935 in ’n stowwerige Bethlemem in die Vrystaat. Die mooie Evangelie is ambisieus en droom van Hollywood wat sy vir ’n wyle proe in die 50’s se se klassieke Afrikaanse rolprente soos Boggel en die Akkedis, Meisie van my Drome en Duiwelsvallei. Haar pad na omstredenheid en roem word geteer toe sy haar in die huwelik begewe met die Nasionale Party (NP)-parlementslid dr. J.J. De V. Bezuidenhout. As trotse ma van De Kock, Izan en Billie-Jeanne word mag haar verslawing – van die raadsaal tot die kombuis en om die etenstafel. Tannie Evita word die vertroueling van die feilbare gode op die Boere-Olympus en help vorm aan die verloop van die geskiedenis deur haar noue en dikwels ongelooflike verhoudings met die ernstige leiers van die dag. Dit was toe en jare nadat sy vir die eerste keer haar stem laat hoor het in vlymskerp politieke en maatskaplike kommentaar, doen sy steeds so voort in ’n nuwe politieke landskap.
Evita se Perron op Darling, sowat 80 km noord van Kaapstad, is sedert 1996 die plek waar jy beslis sal lag, maar ook stilstaan en dink, vrae vra en gesprekke begin oor die wêreld van toe en die wêreld van nou.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie