Die room van plaaslike rolprente en teater gevier

Benoemings bekend gemaak
Die Namibiese Teater- en Filmtoekennings sal vir die eerste keer in ses jaar weer sy talentvolstes vereer.
Jorge Dos Santos

Ná ’n ses jaar lange onderbreking is die Namibiese Teater- en Filmtoekennings (NTFA’s) amptelik terug, wat ’n hernieude viering van uitnemendheid, veerkragtigheid en groei in Namibië se kreatiewe bedryf bring.

Die nominasies is op 11 Februarie 2026 tydens die sesde Namibiese Teater- en Filmtoekennings se nominasieplegtigheid by die Nasionale Teater van Namibië (NTN) in Windhoek aangekondig. Die toekenningseremonie sal na verwagting op 28 Maart plaasvind.

Die voorsitter van die Namibiese Filmkommissie (NFK), Esther Beukes, het gesê dié geleentheid is meer as net ’n aankondiging.

“Dit is ’n terugkeer, ’n vernuwing en ’n verklaring van ons vertroue in Namibiese kreatiwiteit,” het sy gesê.

Die versoek vir inskrywings is met groot entoesiasme ontvang. ’n Totaal van 54 Namibiese rolprente, wat tussen September 2019 en November 2025 vervaardig is, is in verskeie kategorieë ingeskryf. Hiervan het 45 aan die vereistes voldoen, terwyl 19 rolprente uiteindelik genomineer is.

Die beoordelingsproses is deur ’n onafhanklike paneel onder leiding van Zellmari Brandt behartig, tesame met Florian Schott, Obed Emvula, Ockert Jansen en Selima Henock. Alle rolprente is individueel via FilmFreeway beoordeel voordat gestruktureerde beraadslagingsessies gehou is. 

Die proses is volgens goedgekeurde riglyne uitgevoer en deur ’n senior ouditeur van die ministerie van finansies bevestig om deursigtigheid en integriteit te verseker. Beukes het opgemerk dat die gehalte van die voorleggings beduidende groei in storievertelling, tegniese uitvoering en kreatiewe selfvertroue binne die bedryf weerspieël het.


NUWE KATERORIEë

Ter erkenning van hierdie vordering is nuwe kategorieë bekend gestel, insluitend dié vir beste nuweling-regisseur, beste ondersteunende akteur (beide manlik en vroulik), beste kostuumontwerp en grimering en beste webreeks.

Beukes het verder beklemtoon dat die toekennings op ’n kritieke tyd terugkeer, aangesien president Netumbo Nandi-Ndaitwah die kreatiewe en kulturele bedrywe as sektore met potensiaal vir groei geïdentifiseer het. 

Sy het verder gesê dat die filmbedryf ’n belangrike rol in werkskepping, jeugbemagtiging, toerismebevordering en kulturele bewaring speel.

NTN se bestuurder, Alma Ulamba, het gesê die terugkeer van die toekennings gaan daaroor om die erkenning vir Namibiese kunstenaars te herstel.

Sy het bevestig dat daar nie ’n “gapingstydperk” sal wees nie en dat alle produksies sedert die laaste toekennings in 2019 oorweeg is.

“Wanneer ons kunstenaars erken, erken ons die hartklop van ons land,” het Ulamba gesê.


TEATER

Die teaterkategorie weerspieël ’n lewendige mengsel van verhoogproduksies, uitnemende vertolkings en tegniese vakmanskap.

In die kategorie vir beste verhoogproduksie is Patrick Sam se Coming Home Dead, Naked Spaces deur Rodney Gariseb, The Wasp deur NU Theatrics, Bret Kamwi se Three Sisters en Die Stoep deur Jonathan Sasha benoem.

Drie van hierdie stukke het ook benoemings ontvang vir beste oorspronklike teks. Kamwi vir Three Sisters, Sasha vir Die Stoep en Gariseb vir Naked Spaces.

Ses akteurs – Dawie Engelbrecht, Hazel Hinda, Jeanne-Danae Januarie, Melgisedek Nehemia, Ndayola Ulenga en Odile Gertze – is benoem vir beste akteur.

Hierdie toekennings sal ook onder meer die gunsteling- nuweling-akteur, beste regisseur, beste choreograaf, beste stelontwerp, beste verhoogtegnikus, beste kostuums en beste grimering uitsonder.


FILMAFDELING

Die filmkategorieë weerspieël ’n volwasse bedryf met sterk verteenwoordiging in speelfilms, kortfilms, dokumentêre en webreekse.

Vir beste speelfilm ding #LANDoftheBRAVEfilm, Lubinda, Skeleton Coast, Lukas en Speel Aan mee.

In die kategorie vir beste regisseur is Tim Huebschle (#LANDoftheBRAVEfilm), Errol Geingob (Speel Aan) en Perivi Katjavivi (Under The Hanging Tree) genomineer.

Die benoemings vir beste mansakteur sluit Simon Hanga (Kapana), Dawie Engelbrecht (Speel Aan) en Bret Kamwi (Wish For Death) in. 

Vir beste vroue-akteur is Ebba Nashipe (Okalila), Hazel Hinda (Speel Aan) en Girley Jazama (Under The Hanging Tree) benoem.

Uitnemendheid agter die skerms word erken in kategorieë soos beste kinematografie, beste redigering, beste klank en musiek, beste produksieontwerp, sowel as beste kostuumontwerp en grimering.

Vir beste kortfilm is The B2 Passage, Emanya en Momeya genomineer, terwyl die afdeling vir beste webreeks erkenning gee aan Ompata Web Series, Rock the Boat en Tsek.

In die afdeling vir beste dokumentêr word The Sea People of the Namibian Coast, Walvis Tale en The Weight of Tomorrow benoem.

Die nuwe kategorie vir beste nuweling-regisseur beklemtoon ontluikende talent, met Laudika Hamutenya, Roger Rafael en Ndakalako Shilongo wat genomineer is.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-04-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer