Die man met die fluweelstem

Van Leonard Cohen tot Koos du Plessis
Mathys Roets tree as deel van die FNB Windhoek Woordfees se skemerkonserte, Sondae in September, volgende Sondag in Droombos se tuin op.
Henriette Lamprecht

In 1989 begin hy in winkelsentrums met sy kitaar liedjies vir fooitjies sing. In 1996 maak hy sy professionele buiging op die verhoog by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) op Oudtshoorn met Nokturne: Die musiek van Koos du Plessis. 

Dertig jaar later tree die man met die sielvolle, fluweelstem wat van Leonard Cohen tot Cat Stevens in verskeie optredes vertolk het, teen skemer in Droombos buite Windhoek se mooie tuin op. 

Mathys Roets kuier en sing as deel van die FNB Windhoek Woordfees se reeks skemerkonserte, Sondae in September, op 13 September om 18:30 op. Kaartjies kos N$280 per persoon en is by webtickets of Model-supermarkte beskikbaar. Vir pensioenarisse is die kaartjiekoste N$230 per persoon. 

Mathys, gebore op 6 Junie 1966 in Krugersdorp aan die Wes-Rand in Suid-Afrika, is die oudste van vier kinders. Sy vormingsjare bring hy op Reitz in die Vrystaat deur waar hy ook aan die Hoërskool Reitz matrikuleer. 

Buiten vir sy magiese stem, is Mathys ook bekend vir sy sin vir avontuur en liefde vir fotografie. In ’n onderhoud met Maroela Media vertel hy dat hoewel musiek hom gekies het, hy in 1987 vir ’n diploma in elektriese ingenieurswese aan die Technikon Pretoria (deesdae die Tshwane Universiteit vir Tegnologie) ingeskryf het. Hy erken hy het ’n passie vir wetenskap en “vir ’n bietjie tegniese dinge” en het nog altyd gedroom hy gaan “eendag” iets ontwerp. 

In 1994 neem hy aan die ATKV se Crescendo-kompetisie deel en behaal saam met Kevin Leo en Guillaume Williams die mans se vokale eindronde. Mathys sou later saam met Leo deel van die trio, Drie van die bestes, sukses behaal. 

Voor sy buiging in 1996 met Nokturne by die KKNK, het Mathys dit reeds die vorige jaar as ’n album opgeneem. Hy vertel in die Maroela Media-onderhoud sy pa het die vorige jaar afgetree en het sy seun se CD geborg. Die totale koste van die opname was N$2 500 en is in twee dae “live” in ’n ateljee opgeneem, met Anneke Coetzer wat hom op klavier en viool begelei het. 

Sy debuut by die KKNK was egter nie soos wat hy “hoopvol en kompeterend” verwag het en met al die kaartjies wat uitverkoop was nie. Toe hy sien geen enkele kaartjie is vir sy nege vertonings verkoop nie, vaar hy die strate in met plakkate en “duisende uitnodigingskaartjies” wat hy aan feesgangers uitgedeel het. 

By die kerkie waar hy opgetree het, het die mense met sy aankoms tougestaan toe hy en sy kitaar opdaag – 80 mense vir sy eerste vertoning! Die res het of uitverkoop of byna-byna die 150 sitplekke in die kerke gevul. 

Hy erken in die begin was hy maar “baie ongemaklik” en met ’n “bek vol tande” en het net die liedjies gesing en nie veel gepraat nie. 

Dit was juis onderweg na nog optredes by die KKNK toe hy op 9 April 2009 in ’n ernstige motorfietsongeluk verlam is. Maar die verlies van sy bene en sy rolstoel het hom geensins gekeer om die lewe met ope arms aan te pak en sy sin vir avontuur prys te gee nie. 

Want as jy dit verloor, dan verloor jy wie jy is, sê Mathys.

Lief vir toer en die langpad vertel hy dit is sy tyd wanneer hy droom, planne bedink en reflekteer. Daar is tye wat hy doelbewus van die pad moet aftrek om eers notas oor ’n idee wat hy het te maak, maar die oop pad is waar hy sonder onderbrekings “bietjie kreatief” kan wees. 

Sy eerste kennismaking met die liedjies van Koos du Plessis was die enigmatiese “Kinders van die wind” en “Sprokie vir ’n stadskind” wat deel was van sy repertoire wat hy in restaurante begin sing het. Dit was die tyd voor Google en Mathys het “doodeenvoudig in ’n boek met al die woorde” baie van Du Plessis se liedjies van die bladmusiek af geleer. 

Sy reis met musiek wat oor dekades strek, het ook ’n deelname aan die Debuut-televisiereeks ingesluit waar hy “as bedekte seën” uitgeval het. Want die wenner het dadelik ’n platekontrak vir die popmark gekry en hy erken mense sou vir hom lag as hy dié mark moes betree!

Hy is bekend vir sy sielvolle weergawes van ballades in veral die musiek van Lenoard Cohen, Roger Whittaker, Cat Stevens en Neil Diamond. Natuurlik was daar ook die optredes saam met Kevin Leo en Danie Niehaus onder die verhoognaam, Drie van die Bestes. Mathys se sin vir avontuur was ook duidelik te sien as mede-aanbieder saam met Alexa Strachan van kykNET se leefstylprogram, Kamp dit uit. ’n Woonwa is spesiaal vir hom ingerig om rolstoel-toeganklik te wees terwyl hulle Suid-Afrika plat getoer het. In 2015 vertolk hy ’n gasrol in die kykNET-sepie Villa Rosa en twee jaar later is hy in 2016 mede-aanbieder van die SABC reisreeks, Authentiek, saam met Portia Moemedi.

Vandag is Mathys ’n sleutel- en gerespekteerde figuur in die Afrikaanse musiekbedryf met ’n loopbaan wat sy blywende band met sy gehoor – van die kleinste dorpies tot wêreldstede in van Engeland, Griekeland, Nieu-Seeland en Australië tot Kanada en Londen. 

*Sondae in September sluit ook optredes deur Anna Davel op 20 September en Vaugh Ahrens, Rias Oberholzer, Sanet Lambrechts, Shannon Grace en Sophia Jeserscheck op 27 September in. Davel se kaartjies kos N$280, terwyl die 27ste se vertoning N$200 kos. ’n Spesiale pakketprys vir al drie die Sondae in September-optredes is beskikbaar. Vir navrae kontak Elizma Theron by 081 122 4110.


Kommentaar

Republikein 2026-09-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer