Die Boekrak
Die plaaslike uitgewer Kuiseb Publishers vier tans sy 40ste bestaansjaar. Dié mylpaal word gevier met die bekendstelling van die boek Namibia, Land of Many Cultures, saamgestel deur Charmaine ǁGamxamûs and Erika von Wietersheim. Die boek is nie bloot ’n lys van feite oor verskillende kulture, soos deur antropoloë en sendelinge in die verlede gedeel is nie. Dis eerder ’n verkenning van die kulturele faktore, tradisies en waardes wat vandag steeds die Namibiese samelewing vorm. Die hoofstukke is geskryf deur lede van die onderskeie gemeenskappe en is daarop gemik om begrip van mekaar se geskiedenis en kultuur aan te moedig, asook wedersydse respek en samewerking te bevorder.
“Deur beide die verskille en gedeelde waardes van Namibië se gemeenskappe uit te lig, dra hierdie boek by tot die bou van wat dikwels die ‘Namibiese Huis’ genoem word: ’n Plek waar almal ’n stem en ’n regmatige plek het,” het die Konrad Adenauer Stiftung se inwonende verteenwoordiger vir die Namibië-Angola kantoor gesê.
“Die boek … is doelbewus ontwerp om lesersvriendelik, toeganklik en toepaslik te wees. . . Deur die werklikhede en drome van ons mense aan te spreek, moedig dit dieper begrip tussen Namibië se verskillende taal- en etniese groepe aan, terwyl dit ook waardevolle perspektiewe bied aan besoekers en toeriste wat ons land verder as stereotipes of wanopvattings wil ervaar.”
Só het die uitvoerende direkteur in die ministerie van onderwys, vernuwing, jeug, sport, kuns en kultuur, Erastus Mbumba, van die boek gesê.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie