Die band tussen landskap en wees

Krit vir Afrikaans100 met Karel Schoeman en Windhoekse Mannekoor
Hoe bring 'n mens hulde aan iemand wie se werk sedert 1965 met die verskyning van Veldslag in meer as 'n honderd publikasies 'n geduldige weefwerk van die lewe in hierdie land geword het?
Henriette Lamprecht
Krit is ’n literêre gespreksgroep wat in 1981 deur George Weideman by die eertydse Windhoekse Onderwyskollege begin is. Sedertdien word daar op ’n gereelde basis resente Afrikaanse boeke bespreek. Vanjaar, met die viering van Afrikaans wat op 8 Mei 100 jaar as amptelike taal bestaan, word daar ’n spesiale geleentheid gehou. Dit gaan ’n feesviering wees van hierdie relatief jong taal wat bewys het dat sy in al die funksies waarvoor ’n taal nodig is, kan skitter! Op Dinsdag 15 Julie trek Krit spesiaal haar feesklere aan om Afrikaans se eeu op gepaste wyse te vier. Om by te dra tot die feestelikheid, tree die Windhoekse Mannekoor by Krit se volgende geleentheid vooraf op. Hierdie koor is reeds in 1907 gestig en is om en by 17 man sterk, met Erina Junius as dirigent vir die afgelope 11 jaar. Hul tema vir 2025 is “Love is a Beautiful Song” en as deel van hul repertorium is besluit om ook drie Afrikaanse liefdesliedere te sing as erkenning van en bydrae tot Afrikaans is 100. “My hartjie my liefie”, “Al lê die berge nog so blou”, en “Die trane die rol oor jou, Bokkie” is spesiaal deur Erina verwerk vir die mannekoor om in hul 2025-program opgeneem te kon word. Hoewel die oorgrote meerderheid van die lede Duitssprekend is, is Afrikaans die tweede of derde taal vir die meeste lede. Die koor voel trots om op ’n musikale wyse te kan bydra tot Krit se viering van die betekenisvolle mylpaal wat Afrikaans vanjaar bereik het. Die boekegesprek tydens Krit se Afrikaans100-geleentheid, fokus op ’n skrywer wat die vaandel van Afrikaans lewenslank hoog gehou het en wel Karel Schoeman wat drie keer as Hertzogpryswenner aangewys is. Buiten verskeie ander literêre pryse, ontvang Schoeman ook akkolades van universiteite. In 2000 ken die Universiteit van Kaapstad aan Schoeman ’n eredoktorsgraad toe vir sy uitstaande bydrae op die gebied van letterkunde en geskiedenis, en in 2004 doen die Universiteit van die Vrystaat dieselfde uit erkenning vir sy rol as leidende Suid-Afrikaanse skrywer. In 2004 word hy saam met André P. Brink en Toek Blignaut vereer met die Suid-Afrikaanse Letterkundetoekennings vir hul lewenswerk as bydrae tot die Suid-Afrikaanse letterkunde. Anders as gewoonlik woon Schoeman die toekenningsgeleentheid van president Nelson Mandela vir die ontvangs van die Orde van Ikhamanga in 1998, persoonlik by. Al wat hy by die geleentheid gesê het, is: “Dis ’n besondere eer vir die Afrikaanse taal.” Met die geleentheid van Schoeman se 60ste verjaardag, skryf Johann Rossouw ’n huldeblyk in Fragmente van 1999: “Hoe bring ’n mens hulde aan iemand wie se werk sedert 1965 met die verskyning van Veldslag in meer as ’n honderd publikasies ’n geduldige weefwerk van die lewe in hierdie land geword het? Hoe praat jy oor iemand wie se werk jou keer op keer tot woordelose emosie gebring het? Van Schoeman se werk kan gesê word dat dit ons geleer het van die band tussen landskap en wees, dat dit die waarde van die brose woord aanstip, dat dit ons tot die onmoontlike, dog onvermydelike, taak van herinnering wend, dat dit die vreugde van verwagtinglose, versigtige lees skenk, dat dit die eenvoudige skoonheid van die getuigende lewe as voortdurende geboorte en wording spieël. Vir die Afrikaanse taal is dit ’n besondere eer dat jy daarin skryf. Dankie, Karel.” Schoeman se lewenslange literêre bydrae, sy omvangryke historiese navorsing en kundigheid, sy virtuose Afrikaans en sy besondere vermoë om universeel te sien, maak hom ’n geskikte skrywer wanneer ons oor Afrikaans100 besin. ’n Eeu jonk en Afrikaans kan nederig spog met wêreldklas-skrywers soos Karel Schoeman en ’n mag ter menige ander sulke skrywers. Haar skrywers bewys onder andere dat Afrikaans ’n waardige taal is om van kennis te neem en met trots te praat. Schoeman se boek wat tydens die Krit-bespreking onder die loep geneem word, is Riviereland, ’n tweeledige reisbeskrywing van twee besoeke aan die land van Afrikaans se oorsprong – Nederland. Tydens die reise verken Schoeman die landskap van sy voorouers en ook die landskap van historiese figure wat bygedra het tot die geskiedenis van die Kaap en die ontstaan van Afrikaans. Soos immer by Schoeman beur die teks deur tot die universele, tot onder andere die filosofiese besinning van tyd en die ervaring van ruimte. Schoeman se vernuftige benutting van herfs, die landskap en spel van lig, maak die lees van die reisbeskrywings ’n verrykende leeservaring. Hierdie spesiale fees-Krit waar die gesprek oor Riviereland plaasvind, vind op Dinsdag 15 Julie 2025 om 18:30 in die NG Kerk Windhoek-Oos se kerksaal plaas. Die toegangsfooi is N$50 en ’n glas wyn en ’n happie word verskaf. Enige persoon wat lief is vir Afrikaans en vir lees, is baie welkom. Skakel met Susan Alexander, Krit-voorsitter by 081 272 0459 vir meer inligting en indien jy die geleentheid wil bywoon. AGTERGROND Karel Schoeman is op 26 Oktober 1939 in Trompsburg in die Vrystaat gebore en sterf op 1 Mei 2017 in Bloemfontein. In 1956 het hy sy matriekeksamen aan die Hoër Jongenskool in die Paarl geslaag. Schoeman het taalkunde aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat gestudeer en in 1959 ’n BA-graad verwerf. In dieselfde jaar het hy die Rooms-Katolieke geloof aangeneem en aan die Rooms-Katolieke Seminarium St. Jean-Marie Vianney in Pretoria studeer. In 1961 het hy tot die orde van die Fransiskane in Ierland toegetree. Ná drie jaar se novisiaat in die kloosters van Killarney en Gilwald het hy egter besluit om nie sy gelofte as priester af te lê nie. Hy het in 1964 na Bloemfontein in Suid-Afrika teruggekeer en die hoër diploma in biblioteekkunde behaal. Schoeman se werk is verskeie kere met pryse bekroon. Hy het drie keer die Hertzogprys gewen (in 1970 vir sy romans By fakkellig, ’n Lug vol helder wolke en Spiraal; in 1986 vir ’n Ander land en in 1995 vir Hierdie lewe). Vir die roman ’n Ander land het hy ook die Ou Mutual-prys, die W.A. Hofmeyrprys en die Helgaard Steyn-prys gekry, terwyl hy vir Hierdie lewe ook die CNA-letterkundeprys ontvang het. Vir Verkenning het Schoeman in 1997 die M-Net-boekprys en die Stals-prys vir kultuurgeskiedenis gewen. Hy het in 2002 vir ’n tweede keer die W.A. Hofmeyr-prys vir Armosyn van die Kaap opgeraap. Hy het ook vier Recht Malan-pryse gewen. In 1999 het hy in Pretoria die Orde van Voortreflike Diens van oudpres. Nelson Mandela ontvang. Nadat hy sy studies aan die Universiteit van die Vrystaat voltooi het, was hy vir ’n wyle by die Rooms-Katolieke seminarie in Pretoria. Daarna is hy na die buiteland, waar hy van tyd tot tyd gewoon het. Aanvanklik was hy ’n broeder in ’n Franciskaneklooster in Ierland, waarna hy in onderskeidelik Amsterdam en Kreta gewoon het. Later het hy in Glasgow, Skotland, as verpleër gewerk. Schoeman het later weer in Suid-Afrika gewoon en was verbonde aan die Provinsiale Biblioteekdiens van die Vrystaat. Hoewel Schoeman hoofsaaklik as prosaïs bekend geword het, het hy ook vertalings van dramas soos Tsjechof se Oom Wanja en Schiller se Maria Stuart gedoen. Soos in sy prosawerk word sy werk gekenmerk deur ’n fyn wisseling van stemminge, die broosheid, tydelikheid en mislukking van menslike verhoudinge en aktuele politieke strominge en die spanninge van die tyd. Hoewel hy in die periode van die sestiger- en die sewentigerjare val, is sy werk individualisties van aard. Schoeman se debuutwerk, Veldslag, het in 1960 verskyn. Vertalings van Schoeman se romans het in Duits, Engels, Frans, Nederlands en Russies verskyn.

Kommentaar

Republikein 2025-07-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer