Die alchemie van klei en kos

Henriette Lamprecht
Die saamvloei van skeppings uit klei, boeiende gesprekke en ‘n kulinêre feesmaal vorm die kern van Clay and Conversation #2 wat by die outentieke BELLHAUS Atelier & Galerie in Windhoek aangebied word.

Die keramiekkunstenaar Xammi is die gasvrou van dié unieke werkwinkel waartydens deelnemer een tot twee unieke kunswerke tydens ‘n sessie van twee ure sal skep. Handboutegnieke sal gebruik word en deelnemers word aangemoedig om gewapen te kom met inspirasie vir ‘n kunswerk wat jy graag sal wil skep. Voorsiening word vir ‘n maksimum van 18 deelnemers gemaak om vir ‘n intieme en ontspanne atmosfeer te sorg. Die werkwinkel is geskik vir alle vlakke van ervaring en net vir volwassenes. Alle materiaal word verskaf en deelnemers kan hul keramiekwerke binne twee weke by die Galerie gaan haal nadat dit glasuur en gebak is.

Die werkwinkel word gevolg deur ‘n spesiale kulinêre ervaring deur die bekende sjef Siobhan Dammert wat ‘n feesmaal spesiaal vir die winter voorberei. Verloor jouself in die rustieke geure van ‘n plattelandse sop, met 'n harmonieuse mengsel van plaaslike, seisoenale groente en sagte vleis. Saam met die sop word kraakvars brood gebak in ‘n vuurherd voorgesit vir ‘n ware ode aan tradisie en eenvoud. Buiten vir gekruide botter is daar ook Chimichurri, ‘n Argentynse spesery en Pesto Rosso, 'n geurige Italiaanse rooi pesto gemaak met songedroogde tamaties, roosmaryn en amandels.

Die spesiale werkwinkel en ete vind op 23 Julie van 18:00 tot 221:00 by die BELLHAUS Atelier & Galerie in Bellstraat 18 in Windhoek plaas. Kliek hier vir meer besonderhede: https://q.my.na/K42V

Kommentaar

Birgit Skutsch 2 Maande Gelede 13 July 2025

Hoe kan mens deelneem aan die klei en kos aand?

Rapporteer

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer