Dié aanbieders gaan braaimeesters oor kole haal in nuwe ‘Kokkedoor’

Yandi Du Plessis
Twee bekende nuwe aanbieders sal eersdaags ’n nuwe geur aan die gewilde Afrikaanse koswerklikheidsreeks Kokkedoor gee, wat vanjaar weer beloof om ’n hoofgereg op kykNET se kykgenot-spyskaart te wees.

Deelnemers sal die bekroonde sjef en entrepreneur Bertus Basson, aanbieder van die kykNET-reeks In die sop, tesame met die braaikenner Kobus Botha met hul braaivaardighede moet beïndruk.

Dié reeks sal ’n splinternuwe aroma hê wanneer deelnemers ’n braaivoorskoot aantrek. Hulle gaan alles in die vlamme, op die kole, in die as of op die rooster moet berei en die reeks sal bekend staan as Kokkedoor Vuur & Vlam, lui ’n verklaring van kykNET.

Basson is nie net een van Suid-Afrika se topsjefs nie, hy is geruime tyd reeds ’n bekende gesig op Afrikaanse televisie. In die werklikheidsreeks In die sop het hy en ’n span kundiges ingespring om nuwe lewe in restaurante te blaas.

Botha, Basson se medebeoordelaar, is ’n braaighoeroe wat braaivleisvure internasionaal hoog laat brand. Hy woon die laaste paar jaar in Frankryk, waar hy in ’n braaisensasie ontpop het.

“Dis juis vanweë sy vindingrykheid en kreatiwiteit oor die kole by privaat kuiers en spoggerige geleenthede dat Kobus ook daar groot aansien onder kosmense geniet,” lui die verklaring.

Botha, ’n Klein-Karoo-kind oorspronklik van Oudtshoorn, besoek Suid-Afrika nog baie gereeld. So het hy ook hier in 2019 sy boek, Le Braai – Braai with a bit of je ne sais quoi, bekend gestel.

Die Kokkedoor-tafel is vir die eerste keer in 2013 vir kykers gedek en oor die jare heen het Kokkedoortjie (vir kinders) en Koekedoor (vir bakkers) geurryke vermaak en inspirasie aan oud en jonk verskaf.

Vir Kokkedoor Vuur & Vlam is kykNET op soek na die volmaakte spankombinasie van ’n “pro”, wat ’n professionele of opgeleide persoon in die kosbedryf is, en ’n familielid wat daarvoor lief is om te braai.

Die reeks sal van Julie op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai word en word deur Homebrew Films vervaardig.

** Skryf só in:

Besoek kyknet.tv (https://www.dstv.com/kyknet/af-za/home) , stuur ’n video per WhatsApp-boodskap na 064 736 5013 of stuur ’n e-pos na [email protected] Elke persoon se inskrywingsvideo van maksimum drie minute lank moet die volgende inligting bevat:

• Stel jouself bekend.

• Vertel wie jy is.

• Waar kom jy vandaan?

• Is jy ’n onthou- of ’n kinkelbraaier, en hoekom?

• Hoekom wil jy deelneem?

** Reëls:

Jy moet minstens 18 jaar oud wees op die dag van die oudisie. Enige Suid-Afrikaanse of Namibiese burger wat ’n geldige identiteitsdokument het, mag inskryf.

Vir diegene wat die kortlys haal, sal oudisies in Februarie plaasvind. Persone wat deurdring om deel te neem, moet gedurende April en Mei in die Kaapstad-omgewing beskikbaar wees.

- Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2023-02-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer