Dana Snyman, die meester van nostalgie
'Deernis, oog vir detail'
Dana Snyman skryf oor dinge wat mense nostalgies maak.
Ek is verskriklik nostalgies, versot op geskiedenis en en ek onthou datums uit die verre verlede.
Een datum wat ek nie gaan vergeet nie, is Dinsdag 21 Oktober wanneer Dana Snyman die eregas is by die FNB Windhoek Woordfees wat in unieke samewerking met Krit aangebied word. Om 18:30 sal Eddie Turner met hom in 'n Krit-boekgesprek by die NG Kerk Windhoek-Oos wees oor Dana se jongste boeke, Seun en Wie de hel is Johnny Joubert?.
Dana Snyman was nog altyd een van my gunsteling-rubriekskrywers, joernaliste en skrywers. Ons het in dieselfde era grootgeword en as Afrikaanssprekendes deel ons die skuldgevoel oor die Afrikaner se verlede van die apartheidsera.
Soos Dana, het ook nie op skool mooi opstelle geskryf nie. Ek het vir twee jaar liefdesbriewe aan my lang, seningrige hoërskoolliefde op die grens geskryf wat nie daar wou wees, maar moes. Ook vir sy beste vriend om mooi na hom te kyk omdat hy 'n sensitiewe siel is. Ek het vir ander jong seuns op die grens namens hul meisies wat nie kon spel of skryf nie, briewe geskryf. Dis hoe ek begin skryf het en ek skryf net in Afrikaans.
Dana skryf in my taal, hy skryf nie in fênsie woorde nie, maar vir gewone mense, veral diegene wat al harde grondpad in hul lewe gery het.
KOOS KOMBUIS
Koos Kombuis het geskryf hy het een keer gesels met iemand wat nie van Dana se werk hou nie wie se kommentaar was: “Ek kan nie daai ou se boeke lees nie. Dis net die een stowwerige straat op die ander.”
“Inderdaad kan ’n mens seker sê dat Dana Snyman vir lank dieselfde suksesresep het. Hy skryf oor dinge wat mense nostalgies maak. Hy gee die gevoel dat hy eerlik is, dat hy net ’n eenvoudige mens is wat in eenvoudige taal oor dinge dink en dinge waarneem,” het Koos in ‘n resensie oor een van Dana se boeke, Soekmekaar, geskryf.
Koos benadruk daar is, en was, al talle kunstenaars van alle nerings – musiek, skilderkuns, fotografie, en die geskrewe woord – wat presies dieselfde doen as Dana. “Hulle verpak en verkoop nostalgie. En wie van ons is nie ’n sucker vir ’n lekker dosis nostalgie nie?”
Koos was deel van die Voëlvry-beweging toe ek 'n eerstejaar, liberale politieke wetenskapstudent tydens die Voëlvry-konserttoer was wat verbied was op verskeie kampusse. Hy sê dit is egter nie so maklik soos dit lyk nie: “Om nostalgie reg aan te bied, om dit as werklike letterkunde te laat werk, moet jy ’n hele klomp baie moeilike tegnieke presies bemeester, of alles vervlak tot kitsch en schmaltz.”
Dana het as misdaadverslaggewer by Beeld begin en lank vir Huisgenoot en as reisjoernalis vir Weg geskryf het.
“Dana Snyman het ’n oog vir detail wat sand in die oë skop van baie ander skrywers,” sê Koos.
“In daardie onbenullige detail, kry jy die hele prentjie, ’n prentjie wat wêrelde van verbeelding en herinnering ontsluit.
Koos sê ook Dana is die meester van slotsinne. “Soos Roald Dahl bou hy, met die een understatement ná die ander, ’n reeks gebeure op wat almal lei tot by die laaste sin, wat jou dan, ten spyte van die onpretensieusheid daarvan – of dalk juis as gevolg van die onpretensieusheid daarvan! – soos ’n vuishou in die maag tref.”
Koos sê in Dana se boeke word sy stories perfek gerangskik en ek stem saam met Koos. Ek loop nooit ‘n rubriek van Dana mis nie, maar “baie van hierdie stukke het ek al tevore elders gelees. Dit was almal lekker leesstof. Maar die geheelindruk van die boek is anders," skryf Koos.
“Die manier waarop die een storie die volgende een inlui en antisipeer – iets wat Dana soms beter doen as Italo Calvino – verander ’n doodgewone bundel versamelde rubrieke in iets wat die intellektuele gewigtigheid het van ’n klassieke roman.
Koos noem die voorbeeld van The Fall van Albert Camus, en beskou dit as bedrieglik eenvoudig. “Die boek vorm ’n geheel. Al verskil die hoofstukke in lengte, is elke hoofstuk op die ou end ewe belangrik. En, soos in die Gestalt-beginsel, is die geheel baie groter as die optelsom van die dele. Dit wil gedoen wees.”
Koos meen Dana doen dekselse goeie navorsing: Hy is fisiek teenwoordig in elke insident, of hy laat jou voel hy was daar. Hy neem ouens op met bandopnemers. Hy sit in die regte kroeg op die regte tyd.
“En dan neem hy soms kiekies ook. Nie baie goeie kiekies nie, oukei, as jy daarna sou kyk buite die konteks van die verhale nie – Snyman is geen Goldblatt nie – maar hel, dis genoeg. Koos onthou daai kiekie van kunstenaar Walter Meyer se laaste skildery, geneem waar dit nog op sy esel gestaan het in die slaapkamer wat hy by ’n vriendin gehuur het. “Dit sal by my spook tot in lengte van dae . . .”
“O ja. Dana Snyman het deernis. Met homself, en ook met die karakters wat hy beskryf. Dis ’n kwaliteit wat nogal moeilik is om te fake, as jy my vra,” het Koos sy resensie afgesluit.
DANA SE GUNSTELINGBOEK
Elke skrywer wat sy sout werd is, moet ‘n kranige leser wees. Ek was verbaas, maar nie verras om te lees dat ek en Dana dieselfde Afrikaanse gunstelingboek in gemeen het. As ek een net een Afrikaanse boek, gestrand op ‘n afgeleë eiland moes neem en dit oor en oor moet lees, sal dit dit PG du Plessis se Fees van die Ongenooides wees.
“Dit het net hengse karakters. Daantjie, daai hoofkarakter, is eintlik sleg, maar jy kry amper simpatie vir hom.”
“Toe ek dit lê en lees, het ek gedink dit is bo-natuurlik hoe bewus PG van die Anglo-Boereoorlog is. Dis asof hy daar moes wees. Jy kan die tydgees aanvoel.”
En dit is hoe jy Dana se boeke ervaar, jy voel die tydgees aan, jy voel of jy die karakters ken en jy sien die stofpaaie voor jou uitstrek.
Kaartjies kos N$50 by die deur en bespreek vooraf by Susan Alexander by 081 272 20459 of Elizma Theron by 081 122 4110. Dana se beskikbare boeke sal deur Windhoek Book Den te koop aangebied word met kaartgeriewe wat beskikbaar sal wees.
- [email protected]
BLOKKIE OOR 2 BOEKE
WIE DE HEL IS
JOHNNY JOUBERT?
Wie de hel is Johnny Joubert is een van die topverkopers in boekwinkels vir September.
"'n Mens sou kon sê ek het op rugby verlief geraak met dieselfde geesdrif as waarmee ek op Elma Theron verlief geraak het, sonder om vrae te vra.
"Die dag toe ek Elma die eerste keer gesoen het, het die Leeus teen die Springbokke op Loftus gespeel. Die dag toe Ma oorlede is, het WP teen Grens op Nuweland gespeel..."
Rugby wou Dana nog nooit uitlos nie. Van klubrugby op stowwerige dorpsvelde tot die glorie van drie Wêreldbekers. .
In Wie de hel is Johnny Joubert? deel Dana sy notas van ’n rugbyliefhebber. Sy eerste rugbybal was nogal ’n geskenk van Dok Craven en ek het vir Doc Craven toevallig op Maties raakgeloop toe ek op ‘n politieke wetenskaptoer was in my honneursjaar.
SEUN
Dana Snyman deel in Seun die deel van sy storie waaroor hy nog nooit gepraat het nie: sy ervaringe in die 1980's. Dit is die tyd van PW Botha se vinger, van die Voëlvry-toer, AWB-saamtrekke, onderhandelinge en die laaste dae van diensplig. Dana word oneervol ontslaan uit die weermag, maar eers maak hy 'n draai in Saal 24. Werkloos en doelloos eindig hy in 'n gewese bediendekamer in Pretoria.
Dié rou, selfonthullende memoir vra: hoe word 'n seun 'n man? 'n Seun wat nie 'n meisie se aandag kan trek nie? 'n Seun wat nie goed genoeg is vir die weermag nie?
Met Seun neem Dana lesers in sy vertroue. Dit is 'n aangrypende relaas oor grootword tydens die doodsnikke van 'n politieke stelsel, oor manlikheid en oor eer, en oor die liefde wat uiteindelik alles oorkom.
BLOKKIE
STEFAANS COETZEE:
RESENSIE VAN SEUN
Ek sit onder Ventersdorp se dorpsnaambord met “God is liefde” agterop. Ek is nie seker wanneer of deur wie dit geverf is nie, maar my herinneringe koppel nie goddelike liefde aan hiérdie dorp wat na Johannes Venter – op wie se grond die kerk gebou is – vernoem is nie.
Toe Dana Snyman se pa in die vroeë 90’s nog kapelaan van die AWB (Afrikaner Weerstandsbeweging) was, was Ventersdorp die hoofstad van haat en rassisme. Jy onthou mos die omgekeerde Nazi-hakekruis, die opsweping, geweld en bomaanvalle.
Wit terroriste!
Dit is juis weens die wit terreur dat daar ’n band tussen my en die 62-jarige predikantseun ontstaan het. Hy het my medebeskuldigdes, Cliffie en Koper, goed geken. En dit is weens die intieme ken dat hy weet hoe ver ek ná 18 jaar en ses maande agter tralies vir my aandeel aan ’n vlaag verregse bomaanvalle gedurende die middel 90’s gevorder het, daarom moedig hy my gedurig aan en sê hoe trots hy op my is.
Maar wat weet ek van my geliefde vriend, buiten dat ons soms met die Swarthond opstaan?
In die voormalige Weg!-redakteur se dosyn reisbundels (Uit die binneland, Anderkant die scrap, Op die agterpaaie, Op die toneel, Hiervandaan, Onder die radar, In die blou, Op pad, Soekmekaar, Onder een dak en In die tyd van die gif) het hy ons gereeld op die stoep ingelaat, selfs in die sitkamer en aan tafel.
Maar hy het ons nooit in die brandkluis van sy hart toegelaat nie. Die skaamte – dat hy onbevoeg verklaar is om Suid-Afrika teen sy vyande te beskerm, waarvan hy soos ’n Jona probeer wegvlug het, maar tog in sy bundels en op Facebook-plasings onlosmaaklik in die verlede vasgevang was – was te diep begrawe vir hom om met ons te deel. Tot nou.
In Seun deel Troep 78302494BG vir die eerste keer sy skaamte van Saal 24 en sy oneervolle ontslag uit die weermag met ons.
Snyman is ’n mensemens; sout van die aarde, sou die grysbaarde sê. Selfs in ’n tyd toe Mirages en Impalas laag oor die stad gevlieg het, toe skole nog in weermaguniforms weekliks kadette geoefen en ’n noodplan ingeoefen het en ons vreesbevange was om by ’n Wimpy Bar in te gaan weens ’n ANC-bom op Amanzimtoti, het Snyman diep binne hom geweet iets is nie reg nie. In Seun deel hy sy wroeging met ons.
Ek sit op die bank en lees Cry, the beloved country.
“Jirder, lees jy nou Engelse boeke, tjom? Waaroor gaan dit?”
“Oor die land.”
“Wat van die land?”
“Ons maak nie reg met die swartes nie, Lappies.”
’n Paar bladsye later staan Seun teen Pa op, wat die NG Kerk vir die Afrikaanse Protestantse Kerk en die AWB op Ventersdorp verruil het.
“Ek het baie hoop vir die toekoms, Pa. Ons almal in die land moet net saamwerk.”
“Ek sal graag daardie toekoms wil sien, Seun.”
Snyman sien in al sy bundels, veral in sy soeke na hoop in Op pad: ’n Reisjoernaal, hoop raak. Dit is asof hy homself met elke bundel aan Pa wou bewys en so die Kainsmerk van verraaier en iemand minder as ’n man wou afskud.
As ek Pa was, sou ek my hande nou oor die gemeente lug, handpalms oop en die laaste seën uitspreek:
Dana “Seun” Snyman, ek salueer jou braafheid, want die toekoms het gekom en jy was reg om haar met ope arms te ontvang, ongeag die spot en selfverwyt, ongeag Ma en Pa se afkeur, ongeag ... Ek wens ek was mans genoeg om teen geweld op te staan! Om liefde te kies. En hoop. Ek is moer bly jy het intussen van daardie glyplank afgegly om Seun met ons te deel. Mag ek soos jy mense op hulle regte name aanspreek. Amen.
* Stefaans Coetzee is ‘n Suid-Afrikaanse skrywer en omroeper. Toe hy 19 jaar oud was, was hy betrokke by die bomontploffing by die Shoprite in Worcester op 24 Desember 1996, waar vier mense dood en talle beseer is. Coetzee is skuldig bevind en het 18 jaar in die tronk deurgebring waar hy ‘n metamorfose ondergaan en op parool vrygelaat is.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie