u0027CGALS saam met Johannes Shimbilinga, Walvisbaai se burgemeester. FOTO WALVISBAAI MUNISIPALITEIT
u0027CGALS saam met Johannes Shimbilinga, Walvisbaai se burgemeester. FOTO WALVISBAAI MUNISIPALITEIT

Cgals op internasionale verhoog

-
-
Frieda Molotho

'n Namibiese vrouekamerkoor berei voor om die hul land en die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingstreek (SADC) in Duitsland te verteenwoordig en ‘n internasionale gehoor met hul stemme te bekoor. 

Die Cgals is in 1988 deur die bekende koordirigent, liedjieskrywer, uitvoerende kunstenaar en musiekopvoeder, Wilna Liebenberg gestig. Die koor bestaan uit sowat 30 vroue van verskillende ouderdomme en agtergronde uit Walvisbaai en Swakopmund en is wyd in musiekkringe en onder musiekliefhebbers bekend vir hul suksesse op beide nasionale en internasionale vlak. 

Cgals is deur die internasionale musiekvereniging Interkultur as spesiale gaste uitgenooi om aan ‘n reeks uitvoerings in Duitsland deel te neem. 

Die uitvoerings sluit ‘n kerkkonsert, asook bykomende optredes saam met gevestigde manskore in. Die koor se repertoire sluit tradisionele Namibiese liedere en gewyde musiek en ook Afrika-stukke in. 

Cgals se optredes sluit onder meer die Stimmen der Welt-konsert in Gießen, 'n jubileum en herdenkingskonsert in Watzenborn-Steinberg, en 'n optrede by die St. Peter's Kerk in Gießen in. 

Koorleier Wilma sê die uitnodiging volg na jare se harde werk en deelname aan internasionale platforms soos Interkultur. 

“Cgals het in die buiteland opgetree, insluitend in Spanje, waar bande gesmee is met internasionale figure soos die dirigent en beoordelaar dr. Thomas Kreiling.”

Volgens haar strek die uitnodiging na Duitsland verder as net optredes. “Dit is blootstelling vir die koor en vir Namibië. Ons verteenwoordig die land nie net deur ons musiek nie, maar ook deur hoe ons onsself uitdra,” vertel Wilma. 

Terwyl die koor in die verlede onvergeetlike oomblikke uitvoerings en oomblikke beleef het waaronder Kers- en Paaskonserte, was die fokus wat tot hul jongste internasionale reis gelei het, op voorbereiding.

Soos baie ander onafhanklike groepe, staar die koor finansiële uitdagings in die gesig. As 'n volwasse koor val dit nie onder befondsingstrukture wat tipies beskikbaar is vir skool- of jeugkore nie. Die lede wissel van tieners tot afgetredenes, wat almal bydra om die koor aktief te hou.

Cgals se doel was nog altyd eenvoudig, sê Wilma. 

“Ons wou 'n geleentheid skep vir vroue wat wil sing. In Namibië is daardie geleenthede beperk, so hierdie ruimte maak saak.”

Die koor hoop om Namibië met dissipline en respek te verteenwoordig, beide op en van die verhoog af. Terwyl die plaaslike musiektoneel steeds deur digitale platforms groei, bly die groep gefokus op koormusiek en lewendige optredes.

Vir die toekoms is die hoop natuurlik verdere optredes en soortgelyke geleenthede om hul musiek en stemme weer op ‘n internasionale verhoog te kan deel wat ook belangrik vir groei is. 

“Om genooi te word, is 'n eer. Ons is nederig en trots om Namibië te verteenwoordig.”



Kommentaar

Republikein 2026-06-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer