Bach & Beatles
Bach & Beatles

Bach & Beatles

Henriette Lamprecht
Met vier Suid-Afrikaanse Musiektoekennings, 'n Ghoema en 'n kykNET Fiësta op die rak, het die immergroen groep hul buiging reeds voor gehore regoor Suider-Afrika, Europa en Asië gemaak en dié keer maak hulle ‘n Namibiese draai!.

Die Charl du Plessis Trio, wat in 2006 gestig is en bestaan ​​uit pianis Charl du Plessis, baskitaarspeler Werner Spies en tromspeler Peter Auret is as deel van die FNB Windhoek Woordfees met Bach & Beatles op 6 Februarie in Windhoek by DHPS op die verhoog.

In Bach & Beatles word die bekendste The Beatles-treffers soos “Yesterday”, “Hey Jude” en “A Hard Day’s Night” teenoor die immergroen musiek van JS Bach gestel met die “Tokkate in D mineur”, “Air” en “Jesus, bron van al my vreugde”.

In die hande van die Charl du Plessis Trio word ooreenkomste en kontraste in hierdie uiteenlopende style beklemtoon in nuwe verwerkings van swing, die blues en bossa nova. Hierdie ensemble bied ’n musikale belewenis van internasionale gehalte en vermaak vir die klassieke connoisseur. Die verhoog word gedeel deur die Namibiese Kamer Ensemble onder leiding van Jüren Kriess. Kaartjies kos N$300 per persoon, N$250 vir pensioenarisse en N$100 vir kinders onder twaalf jaar en kan bespreek word by etickets.com

Kommentaar

Republikein 2026-01-29

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer