ATKV-tienertoneel eersdaags weer op die planke

Skoletoer later vanjaar
Die Namibiese jeug beskik oor talle talentvolle akteurs.
Irene van der Walt

Leerlinge met 'n liefde vir toneelspeel sal eersdag weer op die planke wees danksy die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) se gewilde tienertoneel.

"Ons kan nog nie ’n spesifieke datum bevestig nie, maar ons sal hopelik in Augustus of September die skoletoer kan doen," sê die ATKV se bestuurder vir Namibië, die Kalahari en die Noordwes-provinsie in Suid-Afrika, Marco van den Berg.

Oor die vergelyking van talent in tienertoneel in Namibië en Suid-Afrika, verduidelik Van den Berg: "Jul kinders het hope talent en hulle het nog hulle voete op die grond. Hulle is soos sponsies, hulle neem alles in wat jy vir hulle leer en hulle kan alles toepas wat jy vir hulle leer."

Hy is egter van mening dat die Covid-19 pandemie steeds kleef aan die ATKV-tienertoneel. "Covid het ons bietjie getref. Die deurloop van akteurs het vir ’n jaar of twee gestop, so jy moet eers weer nuwe akteurs inkry," verduidelik Van der Berg.

Die ATKV mik om hierdie program gratis aan die jeug bekend te stel en hou gehalte voor oë. "Ons probeer geld uit die tienertoneel uit hou. Sommige skole het natuurlik groter sale, beter toegang tot klank en beligtting, maar wanneer dit kom by ATKV-tienertoneel is dit my klank en my beligting," sê Van der Berg.

Hy meen die ATKV kan juis daarom in die langtermyn terugploeg in gemeenskappe en skole. "Hulle kan met ons klankouens sit en leer en ons leer hulle om die beligting reg op te stel en om die teks reg te interpreteer," sê hy.

Van den Berg maan skole en jonges om nie hulself net by sportaktiwiteite te bepaal nie.

"Jy kan rugby speel en toneel doen. Dit hoef nie een of die ander te wees nie. Kinders moet gebalanseerd wees by die skool. Kultuur gee jou selfvertoue, dit leer jou om te kan praat, om jouself te wees."

[email protected]


Kommentaar

Republikein 2026-04-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer