April bied wye verskeidenheid
As jy van ’n verskeidenheid hou, is volgende maand se flieks en TV-programme spesiaal vir jou.
April gaan iets besonders wees en jy hoef nie bekommerd te wees, daar gaan iets vir almal wees – van gruwel en komedie tot romanse. Elke week is daar iets om na uit te sien en dit begin met The Super Mario Galaxy Movie op 3 April. Dis egter nie al waarna jy kan uitsien nie.
1. The Drama
Die fliek vertel die storie van ’n gelukkig verloofde paartjie wie se verhouding getoets word wanneer iets onverwags voor hul troue gebeur. Kykers kan ’n stylvolle en spanningsvolle verhoudingstorie verwag wat donkerder en vreemder is as wat dit aanvanklik lyk.
2. You, Me and Tuscany
Dit behoort ’n bekoorlike romantiese komedie (romcom) te wees. Dit gaan oor ’n vrou wat by ’n leë Italiaanse villa intrek en haar as die eienaar se verloofde voordoen, net om in ’n onverwagse romanse vasgevang te word wat haar lewe kan verander.
3. Lee Cronin se The Mummy
Die lokprent laat dit soos ’n donker gruwelverhaal voel en dit is beslis niks soos Brendan Fraser se The Mummy-flieks nie. Hierdie een gaan ons dalk nuwe nagmerries gee.
4. Michael
Michael Jackson was ’n wêreldikoon en een van my gunstelingkunstenaars van alle tye, so dit is opwindend om ’n storie oor sy lewe op die grootskerm te sien. Die lokprent lyk indrukwekkend en dit lyk asof die akteurs en regisseur gereed is om ’n groot storie te vertel.
REEKSE
My fliekkaartjies is bespreek, maar my plek op my rusbank is ook gereed vir my, want van my gunsteling-reekse keer volgende maand terug.
April lyk net so opwindend op die kleiner skerm, met superhelde en monsters wat TV-skerms gaan oorneem. Ek gaan vasgenael voor my televisie sit. Ek hoop net ek het die regte happies om aan te peusel.
1. The Boys (Seisoen 5)
Op Prime Video keer Homelander en The Boys terug. Dié seisoen is bittersoet, want ek is opgewonde oor die nuwe seisoen, maar die verhaal kom ook tot ’n einde. Dit beteken waarskynlik niks is buite perke nie en daar word verwag dat hierdie seisoen die grense verder as ooit sal verskuif. Gaan The Boys die finale geveg wen, of gaan Homelander as wenner uit die stryd tree? Kykers kan hewige gevegte, komedie, geweld en chaos verwag.
2. Stranger Things: Tales of ’85
Ek weet die laaste episode van Stranger Things het sommige aanhangers teleurgestel, maar miskien is daar steeds hoop vir die storie. Dit lyk of Stranger Things: Tales of ’85 ’n prettige toevoeging tot hierdie reeks kan wees. Die storie speel af in die winter van 1985 en bring die Hawkins-groep weer bymekaar wanneer ’n nuwe misterie begin ontvou, net toe dit lyk of die lewe weer kalm begin raak.
Ek is opgewonde, want een van die beste dele van Stranger Things was nog altyd wanneer die kinders saamgewerk het. Die animasie lyk goed en kykers kan iets verwag wat uniek, maar steeds bekend voel.
Daar is nog heelwat flieks wat in die bioskoop gaan draai en ook ander TV-programme om na uit te sien.
Volg my op Instagram om altyd op hoogte te bly van wat nuut in rolprentteaters of op die kassie is.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie