Applous vir bekroonde leeufilm

Annemarie du Toit
Die langverwagte Namibiese première van die dokumentêre rolprent Lions of the Skeleton Coast is Vrydag by die Grove Mall in Windhoek vertoon.

Die dokumentêr vertel die verstommende ware verhaal van drie woestynaangepaste leeuwelpies, wat op 10 maande oud hul ma verloor het en in die dorre omgewing van die Namibiese Skedelkus probeer oorleef. Bekende leeunavorser dr. Philip (Flip) Stander volg die welpies, Alfa, Bravo en Charly, se unieke gedrag en oorlewingspogings en bring die kyker naby aan die wreedheid en skoonheid van een van die wêreld se mees ongenaakbare natuurlandskappe.

Lions of the Skeleton Coast is internasionaal hoog aangeskryf en het verskeie toekennings gewen, insluitend die Grand Prix vir Best of Festival by die Cannes Corporate Media & TV Awards in 2024, Best Story by die Green Screen Festival in 2025, sowel as Jackson Wild Awards vir Animal Behaviour en Writing. Dit het ook die Grand Prix by die Matsalu Nature Film Festival ontvang en is genomineer vir ’n News & Documentary Emmy vir Beste Kinematografie.

Die première is deur Wilderness geborg en ‘n groot deel van hul span was teenwoordig om die geleentheid te ondersteun. Stander, saam met die regisseurs Will en Lianne Steenkamp, het die geleentheid kaalvoet bygewoon.

Stander het aan gaste gesê: “Ek voel net bevoorreg om te kon doen wat ek gedoen het en wat vanaand hier aangebied word.”

Die gehoor kon nie net die dokumentêr eerstehands beleef nie, maar ook die span agter die produksie daarvan ontmoet en meer leer oor die uitdagings en hoogtepunte van hul werk met die Skedelkusleeus.

Die leeunavorser het Lions of the Skeleton Coast aan sy vriend en ondersteuner, wyle Bernd Kebbel (59), opgedra wat in Mei tragies ná 'n aanval van een van die filmsterre, Charly (Xpl-114), gesterf het. Kebbel se familie was ook in die gehoor.

Die film het nie net die boodskap van oorlewing en natuurbewaring beklemtoon nie, maar ook die werk van plaaslike en internasionale spanlede gevier.

Die dokumentêre film is ‘n kombinasie van pragtige natuurskote en insigte in dieregedrag en die uitdagings van oorlewing in ‘n amper onoorleefbare woestyn.

Die rolprent is deur Into Nature Productions geproduseer, Noma Dumezweni vertel die verhaal, terwyl Alan Miller die redigering hanteer en Roman Kariolou die oorspronklike musiek geskep het.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-01-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer