Afrikaans (bly) blom

Sy kom van ver af
Vandag praat sowat sewe miljoen mense Afrikaans in Suid-Afrika en Namibië en vir ’n verdere beraamde ses miljoen is dit ’n tweede taal.
Pierre Massyn

Pierre Massyn - Prof. Marné Pienaar, ’n dosent in Afrikaans aan die Universiteit van Johannesburg, deel in ’n kerksaaltjie op L’Agulhas in Suid-Afrika die storie van Afrikaans se komvandaan. 

Sy gaan haal die storie van Afrikaans ver. Van die vroegste Europeërs, soos die Portugese seevaarders Vasco da Gama en Francisco d’Almeida, wat ’n kommunikasiemetode moes vind om ’n ruilhandel vir vleis met die oorspronklike Khoi-veeboere te skep. 

Tot by die skipbreukelinge van die Nieuwe Haarlem wat in 1647 aan die wilde Kaap te Fort Zanderburch met die hulp van plaaslike inwoners moes oorleef. 

Afrikaans se storie sou nie vertel kon word sonder die rol van Damon of Autshomatho – beter bekend as “Herrie die Strandloper” en sy niggie Krotoa nie, wat as tolke tussen Jan van Riebeeck en sy 90 stuks baanbrekers en plaaslike inwoners kon optree. 

Reeds in 1595 bestaan daar ’n taalverskynsel wat die kundiges vandag as Khoi-Afrikaans identifiseer.

Pienaar verduidelik Afrikaans berus op drie historiese variëteite: Kaaps (oudste en grootste), Khoi-Afrikaans en Vryburger-Afrikaans. Volgens haar was nie minder nie as 20 van die eerste Vryburgers wat “spesiale regte en voorregte” deur die Vereenigde Oos-Indiesche Maatskappij (VOC) toegeken is, Engelssprekend. 

Khoi-Afrikaans is veral onder die Nama-bevolking gebruik en word soms as “Oranjerivier-Afrikaans” beskryf.

Die aankoms van Maleisiërs en Indonesiërs – van wie die meerderheid as slawe na Afrika gebring is – was ’n belangrike inspuiting vir Afrikaans. Die slawe was afkomstig van verskillende volke en het in die ou slawielosies gebly waar hulle ’n gemeenskaplike kommunikasiemiddel of taal moes vind om met mekaar te kan kommunikeer. 

“Hul Hollandse meesters het gou geleer jy moet ’n ‘spesiale taal’ met hulle praat. Die kinders wat daar gebore is, het nie Hollands gepraat nie, maar Afrikaans in sy heel primitiefste vorm,” sê Pienaar. 

Afrikaans kry so haar beslag van ’n geslag mense wat nie Nederlands of Hollands as moedertaal gehad het nie. Pienaar verwys na woorde soos “Eina!”, “hoeka”, “toeka”, “kamma” en “dagga” wat uit Khoi ontleen is, met “piesang”, “blatjang” en “djy” en djou” soos veral aan die Kaap gebruik, kom direk uit Maleisies.

In die Tankwa-Karoo en elders word weer dikwels verwys na “pa-goed” of “ma-goed” wat uniek in Afrikaans is wat in sy vroegste vorm soms as ’n kreooltaal beskryf word.

In 1830 het Moslemskole eers Maleisies as onderrigtaal gebruik en daarna Afrikaans. Kaapse Moslem of Moslem-Afrikaans is ’n dialek wat in die Bo-Kaap ontstaan het.

Die vroegste Islamitiese leermeesters of Imams het fonetiese Arabies in geskrewe Afrikaans vertaal in hul vertalings van die Koran, moontlik die eerste voorbeeld van geskrewe Afrikaans. 

Volgens die historikus wyle Dan Sleigh, is die woord “tarentaal” waarskynlik aan die Portugese “Terro de Natal” ontleen.

Pienaar verwys ook na die dubbele ontkenning van “nie” wat nie in Hollands voorkom nie, maar wel in Afrikaans. Dit is soortgelyk aan die Franse gebruik van “ne” en “pas”, hoewel dit in Afrikaans skynbaar onafhanklik uit die veel ouer Frans ontstaan het.

Die trekgees onder die vroegste pioniers het die taalfakkel die binneland ingedra – die veeboere ooswaarts en die Groot Trek dieper die binneland in. 

Lord Charles Somerset se verklaring dat Engels die enigste amptelike taal in die destydse Kaapkolonie moes wees, was ’n kernoorsaak tot Die Groot Trek. 

Lord Alfred Milner het op sy beurt Afrikaans probeer snoer deur sy “kindergarten”-Engelse onderwysers. Ook was daar die konsentrasiekampe, waar duisende vrouens en kinders tydens die Tweede Vryheidsoorlog sou sterf. Daar was ook die beweging deur Namakwaland tot by die Oranjerivier en die latere “Duitswes”. 

Sosio-linguisties is daar kenmerkende aksente uit hierdie streke, met die bekendste voorbeeld die storieverteller Jan Spies van Sekretarispan in die suide van die destydse Suidwes. 

Pienaar sonder baanbrekers soos Arnoldus Pannevis uit, wat in 1872 pleit vir die Afrikaanse vertaling van die Bybel. Daar is die Genootskap vir Regte Afrikaners en die taalstryders SJ du Toit en DF du Toit (Oom Lokomotief) en die publikasies Ons Kleintji en Die Patriot

In 1909 word die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns gestig en in 1917 verskyn die eerste Afrikaanse Woordelys en Spelreels. 

In 1925 word Afrikaans as een van twee ampstale in die buurland aanvaar. Suid-Afrika maak vroeg sy merk in wêreldrugby en in 1906 sê kaptein Paul Roos aan Britse verslaggewers hulle moet die span “Springbokken” noem. ’n Spanlid, Dietlof Maré, skryf die eerste rugbyboek in Afrikaans. Die rugbygrote, “Dok” Danie Craven, se outobiografie is trots Afrikaans – Ek speel vir Suid-Afrika. In 1936 word Afrikaans vir die eerste keer oor die radio gehoor. 

Pienaar huldig ook groot geeste in die letterkunde soos Die Sestigers se André P. Brink, Breyten Breytenbach en Etienne Leroux. In 1989 gee “alternatiewe” Afrikaanse sangers soos Koos Kombuis en Johannes Kerkorrel geboorte aan die Voëlvrybeweging wat die taal op sy kop draai. Pienaar verwys ook na “politieke foute” soos dat net wit mense na die amptelike opening van die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl op 10 Oktober 1975 genooi is. Tydens die 1976-onluste in Soweto word Afrikaans as die taal van die onderdrukker en apartheid gebrandmerk. 

Die stigma is egter afgeskud, sê Pienaar. 

Vandag praat sowat sewe miljoen mense waarvan die meeste swart en bruin is, Afrikaans in Suid-Afrika en Namibië. Vir ’n verdere beraamde ses miljoen is dit ’n tweede taal. Sou die aantal moedertaal-, tweedetaal- en derdetaalsprekers saamgevoeg word, trek dit by sowat 20 miljoen. 

Afrikaans floreer op verskeie platforms soos kykNET, Via, RSG, die Silwerskermfees, die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK), Afrikaans is Groot, die moderne Voortrekker-beweging en die Federasie vir Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK). 

Die reisaanbieder Johan Badenhorst gaan kuier by die Boere-Afrikaners van Patagonië wat steeds aan Afrikaans bly vasklou, Kook en Geniet deur Stoffelina Johanna Adriana de Villiers word telkens herdruk en die Afrikaanse universiteit Akademia onderrig nuwe generasies Afrikaanssprekendes.

Pienaar verwys na sekere onderwysgerigte vakke by die Sol Plaatje-universiteit wat nou uitsluitlik in Afrikaans aangebied word omdat die meeste studente wat feitlik uitsluitlik bruin en swart is, uiteindelik poste kry in die Noord-Kaap, wat oorwegend Afrikaanssprekend is.

“’n Nuwe generasie Afrikaansonderwysers” en almal bruin of swart, wat volgens Pienaar na vore tree.

In Banhoekstraat op Stellenbosch sorg ’n handjievol helde dat die taal steeds in die Woordelys van die Afrikaanse Taal (WAT), die Handboek van die Afrikaanse Taal (HAT) en die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls bly groei. 

Afrikaners is plesierig in die enigste taal in Afrika wat sy naam onlosmaaklik en direk gekoppel het aan die vasteland waar sy ontstaan het. 

*Pierre Massyn is ’n skrywer en oudtelevisiejoernalis.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-09-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer