25 kreatiewe projekte ontvang befondsing
Die Nasionale Kunsteraad (NACN) het vandeesweek aangekondig dat befondsing aan 25 begunstigdes toegeken is uit 55 aansoeke wat ontvang is as deel van die NACN se toekenning- en mobiliteitsprogram vir 2026 (siklus 2).
’n Totale bedrag van N$1 122 026,59 is vir die doel geoormerk. Dit volg op die eerste befondsingsiklus, waartydens drie begunstigdes ’n gesamentlike bedrag van N$132 066,27 ontvang het.
Die twee befondsingsiklusse verteenwoordig gesamentlik ’n totale belegging van N$1 254 092,86 in die huidige finansiële jaar, wat 28 kreatiewe praktisyns oor ’n uiteenlopende reeks kunsdissiplines bevoordeel.
Die Khomasstreek het die grootste deel van die befondsing ontvang, met 17 begunstigdes, terwyl die Hardapstreek twee begunstigdes gehad het.
Die streke Omusati, Kavango-Oos, Omaheke, Oshikoto en Ohangwena het elk een begunstigde gehad.
Die minister van onderwys, vernuwing, jeug, sport, kuns en kultuur, Sanet Steenkamp, het die begunstigdes tydens die aankondigingsgeleentheid aangemoedig om die befondsing verantwoordelik te gebruik.
“Ek moedig julle aan om hierdie hulpbronne verantwoordelik te gebruik, om uitmuntende projekte te lewer en om te verseker dat die impak van julle werk verder as julself strek deur gemeenskappe te bemagtig, opkomende kunstenaars te mentor en Namibië se kreatiewe ekosisteem te versterk,” het die minister gesê.
Die mobiliteitsprogram het die grootste aantal toekennings ontvang, met ses begunstigdes, waaronder die Hui-Dare Group, St George’s Diocesan School en Creative Africa Nexus.
Dit is gevolg deur visuele kuns en musiek, met vyf goedkeurings elk. Belangrike begunstigdes in dié kategorieë sluit die Ekori Resurgence Jewellery Collection, New Media Design (Cota), die Okahao Arts Centre en die Namibia Gospel Music Awards (Ngoma) in.
Die oorblywende toekennings ondersteun mode, multidissiplinêre projekte, kunsvlyt, letterkunde en digitale media. Befondsing is onder meer aan Marshant Van Rooi Fashion Designer cc, Luis Munana Productions cc, Thalitah Tjozongoro (kunsvlyt), Nangula Hamwaala (letterkunde) en Jaimee-Lee Investment cc (MDA) toegeken.
Gesamentlik weerspieël die toekennings die Kunsteraad se voortgesette verbintenis tot die versterking van uiteenlopende kreatiewe sektore oraloor die land.
Volgens die voorsitter van NACN, Lot Ndamanomhata, het altesaam 223 kreatiewes tot op hede voordeel uit die befondsingsprogram getrek.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie