Photo Caption
Photo Caption

Willie Olivier se Etosha

Reisjoernalis en skrywer deel sy passie
Vir meer as 45 jaar dokumenteer Willie Olivier Namibië se landskappe, geskiedenis en natuur. In A Visitor’s Guide to Etosha National Park kombineer hy dekades se ervaring met praktiese reiswenke en fassinerende insigte oor een van Afrika se mees ikoniese wildreservate.
Annemarie du Toit

Vir meer as vier dekades reis Willie Olivier nie bloot deur Suider-Afrika nie – hy dokumenteer dit. 

As joernalis, reisiger en skrywer het hy sy lewe daaraan gewy om die streek se landskappe, geskiedenis en natuur vir ander toeganklik te maak. Sy jongste publikasie, A Visitor’s Guide to Etosha National Park, is die jongste hoofstuk in ’n indrukwekkende loopbaan wat oor meer as 45 jaar strek.

Olivier se loopbaan het hom deur feitlik elke faset van die mediabedryf geneem. Hy was onder meer betrokke by radio, koerante, media-opleiding, vryskutjoernalistiek en die skryf van boeke. Tog sê hy reis en avontuur was nog altyd die dryfkrag agter alles wat hy doen.

“Reis en avontuur was nog altyd in my bloed,” vertel hy.

Oor die jare het daardie passie hom aangespoor om duisende kilometers te voet langs staproetes af te lê en hom na feitlik elke uithoek van Suider-Afrika geneem. 

Een van sy merkwaardigste reise was in 2002 toe hy alleen deur Mosambiek gereis het – en sowat 12 000 kilometer in 30 dae afgelê het – terwyl hy navorsing gedoen het vir ’n reisgids oor die land.

Sy liefde vir die natuur het reeds as kind posgevat toe hy op ’n bosboustasie buite Kaapstad grootgeword het. Tussen 1979 en 1985 het hy sy eie onderneming bestuur wat georganiseerde meerdaagse staptoere deur Suider-Afrika aangebied het. 

Die ervaring en kennis wat hy daar opgedoen het, het uiteindelik gelei tot sy eerste boek, The Guide to Hiking Trails, wat in 1988 verskyn het. ’n Jaar later het Visitor's Guide to Namibia gevolg – die eerste omvattende Engelse reisgids oor Namibië. Sedertdien het hy talle publikasies oor onder meer Owambo, die Khaudum Nasionale Park en verskeie Suid-Afrikaanse bestemmings geskryf.


ETOSHA DEUR NUWE Oë

Met sy jongste boek plaas Olivier die kollig op een van Afrika se bekendste wildreservate: Die Etosha Nasionale Park.

Vir hom het die idee vir die boek natuurlik ontstaan.

“Ek is van nature nuuskierig,” sê hy. 

“Ek versamel altyd inligting oor plekke wat ek besoek en op die ou einde sit ek met ’n magdom inligting. Dan voel ek ek moet dit met ander mense deel.”

Hoewel Etosha nie dieselfde verskeidenheid soogdierspesies as die Krugerwildtuin in Suid-Afrika het nie, glo Olivier die park beskik oor iets wat min ander bestemmings kan ewenaar: Die gemak waarmee besoekers wild kan waarneem.

Die watergate langs die rand van die ikoniese Etosha-pan bied gereeld skouspelagtige tonele waar olifante, kameelperde, springbokke, sebras en roofdiere byeenkom. Daarbenewens is die park die tuiste van die westelike swartrenoster-subspesie (Diceros bicornis bicornis), die skaars Damara dik-dik en groot bevolkings van swartneusrooibokke.


DEKADES VAN ERVARING

Olivier se verbintenis met Etosha strek terug na die 1980’s, toe hy as joernalis die destydse departement van natuurbewaring se jaarlikse navorsingsvergadering in die park bygewoon het. Sedertdien het elke besoek nuwe ontdekkings opgelewer. Baie van die inligting wat uiteindelik in die boek opgeneem is, kom uit historiese verslae en wetenskaplike publikasies wat met verloop van tyd stof opgegaar het.

Hy vertel van interessante feite soos hoe die eerste swartneusrooibokke gevang en hervestig is, asook ’n vroeë voorstel om ’n waterkanaal deur westelike Etosha te bou – ’n plan wat gelukkig nooit verwesenlik is nie.

Volgens hom bied wetenskaplike navorsing voortdurend nuwe insigte oor die park se fauna, flora en ekologie, waarvan ’n groot deel nooit die algemene publiek bereik nie.


MEER AS NET DIE GROOT VIER

Vir besoekers wat Etosha vir die eerste keer aanpak, beklemtoon Olivier dat deeglike beplanning noodsaaklik is.

Wildbesigtiging is gewoonlik die beste vroegoggend wanneer die hekke oopmaak en weer laatmiddag. Hy moedig besoekers ook aan om geduldig by watergate te wees.

“Dikwels verander die dinamika rondom ’n watergat binne ’n paar minute,” verduidelik hy.

Hoewel die Groot Vier – olifant, renoster, leeu en luiperd – dikwels die meeste aandag geniet, meen hy besoekers loop baie mis indien hulle nie ook aandag aan die kleiner diere, voëls en reptiele gee nie.

Hy beveel ook minder bekende plekke soos die Nuamses-watergat oos van Halali aan, asook die westelike deel van Etosha, wat steeds relatief min deur toeriste besoek word.


BALANS TUSSEN TOERISME EN BEWARING

Ná jare van skryf oor reis en natuurbewaring, het Olivier ’n genuanseerde siening oor die rol van reisjoernalistiek ontwikkel.

Hy erken dat publikasies oor unieke bestemmings onvermydelik meer besoekers lok, wat weer druk op kwesbare ekosisteme plaas. As ’n voorbeeld verwys hy na die Messumkrater, waar ’n eens eenvoudige vierspoorpaadjie oor die jare in ’n netwerk van spore verander het.

"”Daar is baie plekke in Namibië waaroor ek nooit sal skryf nie,” sê hy. “Ek weet dit sal net meer mense lok.”

Dis ’n herinnering dat goeie storievertelling nie net mense moet inspireer om te reis nie, maar ook om verantwoordelik te reis.


MEER AS NET ’N REISGIDS

Hoewel A Visitor’s Guide to Etosha National Park propvol praktiese inligting oor watergate, roetes en akkommodasie is, hoop Olivier dat lesers veel meer daaruit sal put. 

Hy wil hê mense moet die park se geskiedenis beter verstaan en met nuwe waardering na die plantegroei, geologie, voëls, reptiele en selfs die kleinste inwoners van hierdie unieke landskap kyk. Vir hom lê die grootste vervulling daarin om kennis te deel en mense se reiservarings te verryk.

“Of dit nou oor geskiedenis, flora, fauna, geologie of ekologie gaan – as mense iets nuuts leer en hul reis meer betekenisvol beleef, dan het ek my doel bereik.”

En hoewel A Visitor’s Guide to Etosha National Park pas vrygestel is, rus Olivier nog lank nie op sy louere nie. Hy is tans besig met die finale afronding van ’n nuwe boek oor die Onguma-natuurreservaat aan die oostelike grens van Etosha.

Daarna, glimlag hy, sal hy eers ’n bietjie rus – voordat die volgende avontuur waarskynlik weer roep.  

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-09-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer