Van krielhaantjie tot inkoejawel

'Taal bly nooit dieselfde nie'
Henriette Lamprecht
Pollevink. Appelliefie. Koemelaat. Liewenheersbesie. Dis ‘n paar van my gunstelingwoorde in Afrikaans wat prentjies in jou kop tower wanneer jy dit van jou tong rol. Dan is daar woorde soos ‘n krielhaantjie (s.nw.), ‘n parmantige, aggressiewe manlike persoon, meestal ook nog klein van postuur of kattemaai (ww), om uitgelate te speel of plesierig te wees. Wat van slampamper (ww) as jy doelloos of bloot vir plesier rondloop of iemand jou konfrater (s.nw) is en wel jou maat of kameraad of tot dieselfde broederskap behoort of dieselde amp beklee. En laaste maar beslis nie die minste spesiaal nie om die straat af te bokappel (ww.) oftewel spring-spring te beweeg of inkoejawel (b.nw) te gebruik om te verwys na iets wat sleg, swak, oes of treurig te vertoon.

Liefhebbers van Afrikaans het sedert 2010 die unieke geleentheid om van pollevink tot krielhaantjie en inkoejawel as woord te borg as deel van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) se Borg ’n Woord-projek. Buiten dat so geld ingesamel word vir die WAT wat volgende jaar ‘n eeu oud is, skep dit ook ’n bewustheid van die waarde van woorde en van die kleurrykheid, omvang en veelseggendheid van Afrikaans by die Jan en Susan Publiek. Boonop kom elkeen wat ‘n woord of woorde borg of koop, in aanmerking vir die jaarlikse Borg ’n Woord-Sanlamprys van R25 000. Christo Els was vanjaar se wenner wat die woord “nagkantoor” gekoop as geskenk aan sy vriend en eienaar van die Nagkantoor Kuierkroeg op Kaapsehoop, oudjoernalis De Wet Potgieter. Naas “nagkantoor” het hy oor die afgelope jare ook die woorde “leeu”, “lieplapper”, “niksnut”, “padloper” en “vagebond” gekoop om sy waardering vir die werk van die WAT te illustreer:

DIE IDEE VAN 1914

Die idee van ’n woordeboek vir Afrikaans het op ’n kongres van die Afrikaanse Taalvereniging wat in 1914 in Stellenbosch gehou is, ontstaan. Daar is besluit dat ’n tweetalige Afrikaans-Engels/Engels-Afrikaanse woordeboek saamgestel moes word deur ’n kommissie. Prof. JJ Smith, wat pas as dosent in Frans en Duits aan die Universiteit Stellenbosch (US) aangestel is, sou deel wees van hierdie kommissie. Benewens die tweetalige woordeboek, is ’n standaardwoordeboek van Afrikaanse woorde en idiome ook in die vooruitsig gestel.

Dit was egter eers in 1920, in dieselfde jaar waarin Smith as die eerste professor in Afrikaans aan die US aangestel is, wat die saak verder gevoer is. Die Nasionale Pers het Smith genader om met die opstel van ’n woordeboek te help.

Op 25 Maart 1926 is die ooreenkoms tussen Smith, Die Nasionale Pers en die US vir die opstel van die beoogde woordeboek met behulp van staatsteun bekragtig met die sluiting van ’n kontrak tussen Die Nasionale Pers en die toenmalige minister van onderwys en binnelandse sake, DF Malan.

Die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) is ’n korter, bondiger verklarende woordeboek in ’n enkele volume, in vergelyking met die omvattende WAT, soortgelyk aan die Concise Oxford Dictionary en die Oxford English Dictionary, wat uit verskeie volumes bestaan.

LEKKER

Die WAT het in 2016 sy 90ste bestaansjaar gevier, en ’n kompetisie is saam met die Suid-Afrikaanse radiostasie Radio Sonder Grense (RSG) en die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) van stapel gestuur om Suid-Afrika se gunstelingwoord te bepaal. Die wenwoord was “lekker”.

In ‘n onderhoud met afrikaans.com vertel dr. Frikkie Lombard, eindredakteur van die WAT wat al 41 jaar hier deel is van die opteken van woorde, ‘n woord word opgeneem wanneer dit deurgedring het na gewone Afrikaans en in ten minste vyf bronne of die werk van vyf verskillende skrywers voorkom.

Maar sê hy, ‘n omvattende woordeboek, eintlik enige woordeboek, is nooit volledig nie.

“Woordeskat brei uit en taal bly nie altyd dieselfde nie.”

‘N HONDERD JAAR

In aanloop tot die WAT se eeufeesviering in 2026, is twee Kabous Meiring en Frank Opperman uit die Afrikaanse kultuurwêreld as beskermpersone van die WAT se Borg ’n Woord-projek aangewys. Kabous Meiring is ’n Suid-Afrikaanse televisie-aanbieder, filmregisseur en diskoersfasiliteerder, terwyl Frank Opperman geen bekendstelling nodig het as ’n bekroonde akteur nie.

“Ek dink in Afrikaans, ek droom in Afrikaans, ek bid in Afrikaans, ek vloek in Afrikaans. Ek is Afrikaans. Ons moet iets doen vir Afrikaans en ek hoop dat ek mense kan inspireer,” sê Frank.

Volgens Kabous is daar min dinge so interessant soos die leksikografie. “Kortom, leksikografie is sexy. Nou kry ek die kans om geassosieer te word met die Woordeboek van die Afrikaanse Taal as beskermpersoon in hul honderdste jaar. Ek was juis nog nooit

meer hoopvol en beïndruk met Afrikaans as nou, met die aanloop na 2026, nie.”

Dit kos R100 om ’n woord te borg en R5 000 om dit eksklusief te koop, dan behoort daardie woord net aan jou. Jy ontvang ’n sertifikaat met jou naam en geborgde of gekoopte woord, asook toegang tot die Aanlyn WAT vir ses maande as jy ’n woord borg of vir vyf jaar as jy ’n woord koop. Boonop word jy ingeskryf vir ’n gelukkige prystrekking van R25 000 geborg deur Sanlam.

Gaan na die webwerf www.wat.co.za en klik op Borg ’n Woord. Deur ’n woord te borg of te koop werk jy mee aan die dokumentering van die Afrikaanse taal in sy wydste omvang. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-12-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer