Seldsame boeke op stille veiling te koop
Boekliefhebbers het die geleentheid om 'n bod as deel van 'n stil veiling in te sit vir 100 unieke Namibiese titels wat in die Sam Cohen-biblioteek op Swakopmund tans gehuisves word.
Die stille veiling wat tot 14 Augustus duur, word deur die kusdorp se wetenskaplike vereniging (SSS) aangebied.
Die 100 eksemplare van merkwaardige boeke is elk vir ten minste N$50 per boek te koop. Wanneer die boek gekoop word om weer kommersieel te verkoop, is die intreebedrag N$80. Volgens die reëls van die veiling kry SSS-lede voorkeur, terwyl vriende van die SSS ten minste 30% meer as ’n lid sal moet bie.
Titels wat beskikbaar is, sluit in die 1997-druk van Theodor Leutwein se 1906-uitgawe Elf Jahre Gouverneur in DSWA; al twee dele van die 1967-publikasie van James Edward Alexander se An Expedition of Discovery into the Interior of Africa en ‘n goeie gehalte 1917-uitgawe van W. Whittall se ooggetuieverslag van die Eerste Wêreldoorlog in suidelike en oostelike Afrika, With Botha and Smuts in Africa.
Afrikaanse titels sluit in Connie Zondagh se 1991 uitgawe van Martelaarsbloed sal nooit verdroog en E.L.P. Stals se gunsteling-kontreigeskiedenis Môrewind oor die Karasberge.
Duitse titels wat beskikbaar is as deel van die stil veiling sluit in
Siegfried Agenbag se Der Otjikotosee wat in 2000 deur die Namibia Wissenschaftlichhe Gesellschaft laat druk was, en Kuno Budack se Krieg und Frieden im Basterland wat in 2015 deur Padlangs Publications versprei is. Boekliefhebbers wie se bod suksesvol was, moet self die boeke by die Sam Cohen-biblioteek afhaal. Verdere navrae vir deelname en om te bie kan gerig word aan [email protected]. Alle aanbiedings moet teen 14 Augustus ingedien wees.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie