Oshana se hart klop in Afrikaans

-
-
Henriette Lamprecht

Môre lei alle paaie in die Oshanastreek na Ongwediva waar Afrikaans in al haar glorie onder die vaandel Afrikaans: Hartklop met van boeresport tot boeke gevier word. Dit is die tweede jaar wat die Oshana Afrikaanse fees aangebied word, met 13 skole wat vir vanjaar se fees geregistreer het. Volgens Nicolene Enslin, skoolhoof van Ondangwa Prof Primêre Skool, is die doel van die fees om bewusmaking en waardering vir die ryk Afrikaanse kultuur onder leerlinge, ouers en onderwysers te bevorder.

Tydens verlede jaar se fees het 15 skole wat Afrikaans van graad 4 tot 10 aanbied, sowat 800 skoliere, ouers en opvoeders aan die fees deelgeneem. Môre se feestelike en inklusiewe program sluit 'n verskeidenheid kulturele en kreatiewe aktiwiteite in. Dit wissel van spreekkore en solosang, kore, volkspele en tradisionele danse tot boeresport. Liplekker en watertand tradisionele Afrikaanse disse is op die spyskaart, terwyl 'n uitstalling van Afrikaanse boeke leerlinge, ouers, onderwysers en besoekers die geleentheid gee om hul gunstelingboek te koop. Vir 'n kiekie vir onthou is daar ook 'n fotohoekie met tradisionele drag.

Môre se feesvieringe in Afrikaans skop om 07:00 by die Ongwediva Handelsentrum af en duur tot 16:00. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-09-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer