Foto verskaf
Foto verskaf

’n Aand in Lissabon by die NTN

Erken as ontasbare kulturele erfenis
Fado is 'n uitvoeringsgenre wat musiek en poësie inkorporeer wat wyd deur verskeie gemeenskappe in Lissabon beoefen word.
Yandi Du Plessis
Die ambassade van Portugal bied op Vrydag 2 Desember ‘n “Night in Lisbon” by die Nasionale Teater (NTN) aan.

Dié unieke geleentheid behels ‘n fado-konsert deur die Portugese musikante Rodrigo Costa Félix en Ana Margarida.

Fado-musiek is in 2011 deur die Verenigde Nasies se Onderwys-, Wetenskap- en Kultuurorganisasie (Unesco) erken as deel van die ontasbare kulturele erfenis van die mensdom.

Fado is ‘n uitvoeringsgenre wat musiek en poësie inkorporeer wat wyd deur verskeie gemeenskappe in Lissabon beoefen word. Dit verteenwoordig onder meer 'n Portugese multikulturele sintese van AfroBrasiliaanse sangdanse, plaaslike tradisionele genres van sang en dans, musikale tradisies uit landelike gebiede van die land wat deur opeenvolgende golwe van interne immigrasie meegebring is.

Dié musiekvorm word dikwels met kroeë, kafees en restaurante geassosieer en het amptelik iewers gedurende die 1820's in Portugal ontstaan, hoewel dit vermoedelik veel vroeër was.

Die verspreiding van fado, deur emigrasie en die wêreldmusiekkring, het sy beeld as 'n simbool van Portugese identiteit versterk, wat gelei het tot 'n proses van kruiskulturele uitruiling wat ander musiektradisies betrek.

Rodrigo Costa Félix is een van die grootste fado-kunstenaars van sy generasie. Hy werk al vir meer as 30 jaar as professionele musikant en sy teenwoordigheid op die verhoog word glo gekenmerk deur elegansie, nugterheid en volwassenheid. British Songlines, een van die grootste musiektydskrifte ter wêreld, het pas sy laaste CD, Tempo, as ‘n topwêreldalbum erken en beskryf dit “as pragtig en vindingryk” en “nog ‘n uitstaande album vir fado-liefhebbers”.

Ana Margarida word op haar beurt beskryf as een van die opwindendste stemme van die nuwe generasie fado-sangers.

Sy het reeds in lande soos Spanje, Frankryk, Switserland, Nederland, Rusland, Duitsland, Luxemburg en Roemenië opgetree. Sy werk tans aan haar eerste album.

Hierdie geleentheid word onder meer gefinansier deur die Instituto Camões, ‘n Portugese internasionale instelling wat hom beywer vir die wêreldwye bevordering van die Portugese taal, Portugese kultuur en internasionale welwillendheid – namens die Portugese regering, asook Portugese entrepreneurs wat in Namibië woon.

Die konsert sal om 19:00 begin. Enigeen is welkom en toegang is gratis! RSVP so vroeg as moontlik by [email protected]

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2022-12-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer