Kaptein Britz glo amptelike erkenning is moontlik

Augetto Graig
“Ons wil deur die regering erken word as ’n tradisionele groep en as inheemse mense. Ons wil as deel van die land erken word.”

Só het die Basterkaptein, Jacky Britz, gesê en hy glo dat sy verkiesingsbelofte vir die amptelike regeringserkenning van die Rehoboth Bastergemeenskap steeds bewaarheid sal word.

Die nuutgestigde Namibiese regering het in 1991, ná onafhanklikwording, beslag gelê op kommunale grond op Rehoboth.

Die Basterkapteinskap se aansoek om erkenning is in 2003 afgekeur weens die afwesigheid van beheer oor kommunale grond. Sedertdien was herhaalde pogings tot amptelike erkenning onsuksesvol.

Britz het op navrae hieroor gereageer na aanleiding van verlede week se 110de herdenking van die gebeure tussen 21 April en 8 Mei 1915 op Sam !Khubis buite Rehoboth.

Die goewerneur van die Hardapstreek, Riaan McNab, het Donderdag die hoofrede by die geleentheid namens die visepresident, Lucia Witbooi, gelewer. Haar toespraak het gefokus op die bydrae van Christelike gemeenskappe oraloor Namibië tot die stryd om onafhanklikwording.

Die Duitse koloniale magte het die Bastergemeenskap, onder leiding van kaptein Hermanus van Wyk, in 1915 onder ’n uitwissingsbevel aangeval.

“Uit vrees vir die totale uitwissing van hul gemeenskap en kultuur, het die Bastergemeenskap – meestal vroue, kinders en oudstes (elders) – uit hul huise gevlug en skuiling in die berge gesoek waar hulle hul tot aanbidding en gebede gewend het as hul verdediging teen die magtige koloniale magte.

“Omring deur die gewapende Duitse magte, het die Bastergemeenskap, ondanks dat hulle in die minderheid en kwesbaar was, geglo daar was ’n goddelike mag wat hulle sou beskerm.

“Trouens, hul geloof en goddelike roeping het die Duitse magte laat onttrek,” volgens die visepresident.



GEDENKDIENSTE

Die reeks Sam !Khubis-gedenkgeleenthede word jaarliks vanaf 21 April deur die Basterkaptein se kantoor gereël.

Kaptein Jacky Britz is verlede Woensdag veral geraak deur die kransleggingseremonie by die grafte van Sam !Khubis-martelare.

“Trane is gestort, die reaksie van die mense. Ons het besoekers van so ver as Omaheke en Gibeon daar gehad. Dit was ’n spesiale oomblik, harte is geraak en die gees was daar,” sê hy.

Britz beklemtoon die gelofte, “die spesiale gebed, ’n gebed van smeking”, wat op die dag herbevestig is.

McNab het in sy eie hoedanigheid aan Network Media Hub (NMH) gesê alles het vlot verloop.

“Dit was baie goed en ook baie emosioneel,” sê hy.

Oor of die nuwe regering die Rehoboth Bastergemeenskap as ’n tradisionele owerheid sal erken, het McNab gesê: “Definitief, daar is hoop.”

Volgens hom is dit net nodig dat die Basterkapteinskap en lede van die gemeenskap hulself organiseer om aan die toepaslike wetgewing oor tradisionele owerhede te voldoen.

Hy sê die regering handhaaf ’n goeie verhouding met die Bastergemeenskap en is ten gunste van erkenning, “onderhewig aan die vereistes van die wet,” sê hy.

Britz sê die Wet op Tradisionele Owerhede van 2000 vereis dat tradisionele owerhede aansoek moet doen om erken te word.

“Die vorige kaptein NcNab het ook aansoek gedoen. Vanaf 2021 is ek in gesprek met leiers,” sê hy.

Hy het in Desember 2023 met wyle president Hage Geingob oor Rehoboth se lot vergader en om erkenning gevra. Britz het gesê hy het in 2022, 2023 en 2024 met Netumbo Nandi-Ndaitwah in haar hoedanigheid as adjunk- eerste minister en later as visepresident vergader voordat sy verlede jaar tot president verkies is.

“Terwyl ons praat, is my aansoek by die minister van stedelike en landelike ontwikkeling,” sê hy.

Dit is in 2024 ingedien, het hy bevestig.

Die herdenking het tot Saterdag voortgeduur, met ’n trekking wat op die terrein gehou is vir pryse, insluitend ’n koei, gemsbok en skaap, wat daarop gemik is om die kapteinskap se fonds te versterk, volgens ds. Steven Nell.

Hy is veral tevrede met die blootstelling wat die geleentheid vanjaar geniet het.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer